• Tuisblad
  • Sport
  • Wanderers laat bonuspunt glip; Kudus neem voortou

Wanderers laat bonuspunt glip; Kudus neem voortou

Klubrugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – FNB Wanderers, onder sy nuwe hoofafrigter Rohan Kitshoff, het sy aanslag op die NRU premierliga Saterdag afgeskop met 'n oorwinning van 24-12 teen FNB Western Suburbs.

Die Wit Hingste het hul derde drie reeds halfpad deur die tweede helfte gedruk en kan hulself dus maar net kopskuddend afvra hoekom hulle in die oorblywende minute hul strafskoppe pale toe geskop het, eerder as om van die lynstaan af vir die bonuspuntdrie te gaan.

Ingevolge die bestaande protokol is geen toeskouers in die allemintige opelugvenue Hage Geingob-stadion toegelaat nie – wat niks minder nie as belaglik is wanneer jy kyk hoeveel mense (wel met maskers) later die aand vryelik die boksgevegte in die binnenshuise saal van die Windhoek Buiteklub bygewoon het.

Op die veld het die eerste ernstige ligawedstryde tussen klubs sedert 2019 soos verwag nie juis die mees vloeiende spel opgelewer nie.

Soos afrigters allerweë opmerk, is daar geen plaasvervanger vir wed­strydtyd om spelers werklik fiks en gekondisioneer te kry nie.

Western Suburbs het die eerste trefhou geslaan met 'n drie deur sy heelagter Ricardo Swartz, wat deur losskakel Justin Nel verdoel is.

Wanderers, as gasheerspan, was egter rustyd met 10-7 voor danksy die drie deur die buitesenter Bernie Hugo, terwyl losskakel Renier Benade, hul aanwins van FNB Unam, 'n doelskop en strafdoel bygevoeg het.

Suburbs het ná rustyd met lang strafdoelpogings deur Swartz en Nel misluk, maar het nietemin gebiedsvoordeel afgedwing totdat senter Dhale Cloete deur die middelveld gebreek het. Dit was die grondslag om in die volgende fase die onverdoelde drie in die hoek vir linkervleuel Morgan Esterhuizen te skep.

Dit was egter die laaste keer dat die Khomasdallers voorgeloop het (12-10), want hierna het Wanderers twee drieë bygevoeg.

Eers het die Hingste ná 59 minute op die doellyn 'n strafskop gewen en 'n skrum gekies, van waar die reserwe-skrumskakel Jan Wessel Meyer self wyd gebreek en met 'n uitgestrekte arm sy drie gedruk het.

Ná 64 minute het Wanderers-senter Rico Lategan uit 'n laagvat gebreek en is naby die doellyn gestuit, van waar flank Driaan Vorster hom oorgewurm het.

Beide dié drieë is verdoel deur Jacques Theron, wat van nr. 9 af na losskakel geskuif het toe Benade af is.

• Die uitslag bring mee dat RNB Rehoboth-rugbyklub danksy sy bonuspuntsege teen Kudus op Walvisbaai (25-13) die voortou ná naweek 1 van die premierliga geneem het. Lees Otis Finck se wedstrydverslag hieroor binne in Sport Wrap.



FALCON-BESLUIT

Die koerant verneem dat die Rugby-unie nog nie besluit het oor Reho Falcon se versoek Donderdag dat Saterdag se ontmoeting met die kampioenspan Trustco United uitgestel moet word nie.

Positiewe gevalle van Covid-19 het tot dié versoek aanleiding gegee en die NRU is na verneem word nie in beginsel teen die uitstel gekant nie.

Prakties gesproke is elke Saterdag egter vol bespreek vir die premierliga wat net oor 'n enkelrondte beslis word. 'n Uitgestelde wedstryd sal dus waarskynlik beslis moet word op 'n Woensdagaand waarop beide klubs gesamentlik ooreenkom. Dit sal bykans onmoontlik wees ingeval dit gebeur dat so 'n wedstryd boonop vir 'n reisende span na byvoorbeeld Walvisbaai of Grootfontein voorlê.

• Komende Saterdag se bepalings (tuisspanne eerste): FNB Unam v Trustco United; FNB Rehoboth v FNB Wanderers; FNB Reho Falcon v FNB Grootfontein.

[email protected]


FOTO’s
FNB Western Suburbs se heelagter Gino Wilson word grond toe gesmeer deur FNB Wanderers se senter Rico Lategan. Foto Andrew Poolman

FNB Wanderers se slot Ruan Ludick stuur die plaasvervanger-flank Sheron Rossouw op ’n lopie tydens die tweede helfte van die wedstryd teen FNB Western Suburbs. Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2026-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer