Waarheen dan?

07 September 2020 | Rubrieke
Met ’n onlangse besoek aan die Narraville-klubhuis dwaal my gedagtes na my dae as ’n swerwer en bewoner van die strate in die stad Egoli.

Ja, die paaie in die baksteenoerwoud is wrintiewaar van goud gemaak. Hulle het die sand van die mynhope wat goudstof bevat daarvoor gebruik, het ek later ontdek.

Maar vir eers keer ons terug na die klubhuis in Narraville, waar die strate nog soutpaaie is.

Ek was nie by die klubhuis om na ’n rugbywedstryd van ons geliefde tuisspan Kudus op die “huis van pyn” te kom kyk nie.

Daar was ook nie ’n snoeker geskietery of veerpyltjie gooiery aan die gang nie.

Corona laat dit mos nie toe nie.

My besoek was genoodsaak deur die noodlot. ’n Groep mense is onlangs hulle woonplekke kwyt omdat hulle nie huurgeld kon betaal nie. Die munisipaliteit het die groep aan die hand gevat en vir hulle ’n tydelike heenkome in die klubhuis aangebied.

Buite brand ’n vuur in ’n halwe drom. Hier word nie gebraai nie, maar gekook en nader gestaan om hitte en beskutting teen die ysige koue weer en wind te kry.

Binne in die saal waar eens troues, danse en mondigwordings gevier is, is daar nou een groot slaapkamer. Etlike matrasse is gestrooi op die vloer.

’n Brakkie rek en strek terwyl sy eienaar met wasige oë die nietigheid instaar. “A penny for your thoughts,” flits dit verby my.

In een hoek is ’n tydelike kombuisie ingerig. Vroue skep op vir die groot familie.

Die kroegarea is nou ’n televisiekamer met ’n bedrywige groep kinders wat luidrugtig na cartoons kyk.

Die drankrakke is dolleeg en die toonbank is bepak met plastiekborde.

Die atmosfeer blyk stemmig, maar tog hang daar ook ’n mate van onsekerheid in die lug.

Stemtyd kom vinnig nader en die klubhuis is ’n stemlokaal.

Waarheen gaan die mense dan? wonder ons almal in stilswye saam.

Die toneel wat voor my afspeel is soos ’n nasmaak van my ondervindinge in Jozi en terselfdertyd ook ’n proesel van wat die toekoms vir baie in ons oase van geleenthede mag inhou.

Daar is met haas en oorgawe ingespring toe ’n vuur etlike sinkhuisies in Kuisebmond verswelg en honderde dakloos gelaat het.

’n Tentstad het in ’n oogwink op die rand van die Namib verrys.

Wat maak die situasie van die huislose wesens in ander dele van ons dorp verskillend?

Is dit anders omdat dit nie so sigbaar is nie? Of verkies ons die skille op ons oë?

Die noodlot vra of diskrimineer nie, dit gebeur.

Een van die baie lesse wat ek met my verblyf op die harde sypaadjies van Johannesburg geleer het, bly my by. Mens is mens, maak nie saak wie of wat jy is nie. Kyk verby die voorkoms. Alle harte pomp bloed.

Maar dit daar gelaat.

Wat het geword van die skakelhuise wat die munisipaliteit eens vir die inwoners gebou het? Daai huise staan nou nog, maar daar word net nie meer by gebou nie.

Dit was destyds die enigste manier hoe mense wat nie huise kon bekostig nie, hulle eie ou plekkie in die son kon bekom.

Een van die mooi dinge wat met die lelike apartheid se totnietmaking ook daarmee heen is.

Ja, tye bring veranderinge. Deesdae gaan kamp ons nie meer in tente nie. Ons woon nou in hulle.

Soortgelyk

 

‘Regering betaal vir sy sonde’

6 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Vandag se halfjaar-begrotingshersiening sal waarskynlik gekenmerk word deur ‘n nóg groter skuldlas, min - indien enige - verligting en die swaard van...

Veldbrande verswelg Etosha, Nina

6 ure gelede | In beeld

Terwyl daar gister vir die derde dag teen veldbrande in die Nina-omgewing (foto) geveg is, het ’n weeklange brand reeds 253 400 hektaar in die...

Drama oor wit uitlatings stoom voort

6 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Veral ná die pyn van Namibië se verlede behoort elke mens in die land as ’n individu beskou te word in plaas...

Young, Wild and Free Nikhita

6 ure gelede | Mense

Ester Kamati “I am unique because my journey is unique, my experiences in life, my thoughts, my words, and my actions make me unique.”Known for...

Prowealth-beleggers se eis oplaas gehoor

6 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer – Byna 12 jaar nadat die Prowealth-kaartehuis met die selfdood van die stigter van dié beleggingsgroep, mnr. Riaan Potgieter, ineengestort en tientalle beleggers...

Etosha-brand eis 253 400 ha

6 ure gelede |

Elvira Hattingh - Teen gistermiddag het brande wat reeds vir langer as ’n week in die Etosha Nasionale Park woed altesaam sowat 2 534 km2...

Weer, Dinsdag 20 Oktober 2020

6 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Hittegolftoestande sal voortduur in die verre noordelike streke. Tref asseblief voorsorg.BINNELAND: Sonnig en baie tot bloedig warm in die Weste en die ||Kharasstreek. Elders...

Namibia Allied Youth Organisation strikes with essay contest

6 ure gelede | Skole

Enzo AmueleThe Namibia Allied Youth Organisation (Nayo) recently announced the winners of its just-ended Inspiring Through Literature essay contest, which began during Namibia’s first lockdown...

Development Bank of Namibia donates classrooms to rural school...

6 ure gelede | Onderwys

The Development Bank of Namibia (DBN) has donated a block of three classrooms valued at N$457 000 to Sakaria H Nghikembua Primary School in the...