Waardasiehof reik bevel uit
Waardasiehof reik bevel uit

Waardasiehof reik bevel uit

Aangestelde waardeerder stel sy saak
Francoise Steynberg
Jacqueline Louw - Landdros Johannes Shuuveni, die voorsitter van die waardasiehofkomitee, het Vrydag ’n bevel in die Windhoekse landdroshof uitgereik dat besware van die beswaarmakers teen waardasies wat deur die ministerie van grondhervorming se waardeerder aan hul eiendomme toegeken is, gehandhaaf word.
Shuuveni het hierdie beslissing gevel ná die aanhoor van aanvullende betoë deur die beswaarmakers se regsverteenwoordigers en die antwoord daarop deur die waardasie-generaal, mnr. Protasius Thomas.
Senior advokaat Andrew Corbett het in sy betoë die kwessie van die magte van die waardasiehof met betrekking tot die toepassing en/of die vertolking van die regulasies van die Grondhervormingswet van 1995 bespreek. Hy het die regsgronde uiteengesit waarop die waardasiehof die waardeerder se metodes in die voorbereiding van die isokaart en die voorlopige waardasierol kan verwerp. Volgens Corbett het die waardasiehof nie die mag om die regulasies op ’n grondwetlike of administratiefregbasis ter syde te stel nie, maar het wel die bevoegdheid om die regulasies te vertolk en uitvoering daaraan te gee. Hy het aangevoer waar die regulasies onduidelik of teenstrydig is, die hof sin daarvan behoort te maak sodat uitvoering daaraan gegee kan word.
Corbett het aangevoer dat die metode vir die berekening van landbougrondwaardes vir grondbelastingdoeleindes bewyse van verkoopwaardes moet uitsluit en dat die waardeerder se waardasiemetodes op foutiewe metodiek gebaseer is. Hy het voorts betoog dat waar verskeie moontlike vertolkings van ’n regulasie bestaan, die hof die vertolking wat die belastingbetaler en nie die belastingowerheid nie bevoordeel, moet aanvaar.
Dit is namens beswaarmakers versoek dat die waardasiemodel deur ’n deskundige in die bestuur van landbougrond, mnr. Leon Lubbe, aanvaar word. Hierdie model neem faktore soos drakrag, reënvalsyfers, agteruitgang van weiding en die gemiddelde gewig van vee in aanmerking.
Volgens sy argument is daar drie opsies oop vir die waardasiehof om te aanvaar: Eerstens om ’n bevel uit te reik dat die waardeerder die waardes van alle landbougrond wat op die waardasierol verskyn, moet herevalueer volgens die hof se riglyne. Die tweede opsie is dat die hof die gesamentlike besware van kliënte met regsverteenwoordiging moet handhaaf en die grondwaardes verlaag soos deur hulle versoek. ’n Derde moont­like opsie is die geval waar die hof weier om sy diskresie ingevolge subregulasies 12(3)(b) en/of 12(3)(d)(ii) uit te oefen, in welke geval die beswaarmakers hul reg voorbehou om hul individuele besware aan die hof voor te lê.
Thomas het later sy antwoord op die beswaarmakers se betoë gelewer. Hy het aangevoer dat die beswaarmakers nie aan die vereistes van die regulasies ingevolge die Grondhervormingswet van 1995 voldoen nie.
“Hulle voorstel wil hê dat ons van die regulasies afwyk en iets buite die wet doen,” het Thomas gesê.
Hy het voorts beswaar gemaak teen die toepassing van die Lubbe-model en aangevoer die model is foutief en dat Lubbe nie gekwalifseer is om getuienis te lewer nie. Shuuveni se kommentaar hierop was dat Thomas se argument gevaarlik is en ’n konflik van belange daarstel omdat Lubbe ’n hoogsgerespekteerde landbouwetenskaplike in diens van die staat is.
Shuuveni sal op 10 Oktober geskrewe redes vir sy uitspraak lewer waarin die volle implikasie van sy bevel aan beswaarmakers verduidelik sal word.

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer