Vyftien ure op een lughawe, dis nie grappies nie
Estelle de Bruyn
Mehran Karimi Nasseri is my nuwe held. Ken julle hom?
Dis die man wat vir 18 jaar, tussen 1988 en 2006, in eindpuntgebou nommer een op die Internasionale Lughawe Charles de Gaulle in Parys geleef, oorleef en geslaap het, omdat hy landloos was.
Hy was afkomstig uit Iran en het voorgegee dat hy daar landuit gesit is, maar dit kon nooit bevestig word nie. Hy het ook daarop aanspraak gemaak dat een van sy ouers Brits was en wou na Brittanje gaan nadat hy België, waar hy onder die beskerming van die Verenigde Nasies se hoë kommissariaat vir vlugtelinge verblyf geniet het, verlaat het. Hy het via Parys na Londen gevlieg, maar die Britse owerhede het hom toegang tot die land geweier omdat hy nie oor enige dokumentasie beskik het nie. Hy het aangevoer dit is gesteel. Hy is gevolglik deur die Britte na Frankryk, vanwaar hy gevlieg het, teruggestuur.
Die Franse owerhede het toegegee dat hy Frankryk wettiglik binnegekom het en dus nie uitgesmyt kon word nie, maar het ook toestemming geweier dat hy Frankryk mag binnegaan.
Vir die volgende 18 jaar was dit 'n kat-en-muis speletjie tussen Nasseri en die owerhede.
Hy het sy tyd in die vertreksaal van die eindpuntgebou deurgebring deur te lees, in sy dagboek te skryf en ekonomie te studeer. Lughawepersoneel het hom van kos voorsien. Hy het uiteindelik siek geword, is in Parys gehospitaliseer en het ingestem om in 'n skuiling vir haweloses in Parys te woon.
Tom Hanks se rol in die fliek Terminal is losweg op Nasseri se verhaal gegrond.
Ná 'n dag soos Vrydag 2 Junie waar ek 15 ure in die internasionale vertreksaal van eindpuntgebou nommer twee op Charles de Gaulle-lughawe deurgebring het, het Nasseri al my simpatie.
Die eerste drie ure is maklik. Verken die besigheidsklas se sitkamer, stort en trek vars klere aan, drink tee, smul aan die heerlike versnaperinge, lees 'n boek en vir oefening stap jy deur die belastingvrye winkels met hul peperduur parfuum, ontwerpershandsakke, en koop 'n "macaron".
Dis klein bont koekies met 'n vulseltjie wat in verskillende kleure en smake, van karamel tot suurlemoen en lemoenbloeisels, kom.
Toe begin ek op my horlosie kyk en die ure aftel.
Kon nie glo daar is nog 12 van die 15 ure oor nie en ek het nog nie 'n duik in die wagtyd gemaak nie.
Ongeag hoe smaaklik die smulhappies en vrugte, die vrugtesap, die wye verskeidenheid tee wat beskikbaar is en die gemak van die leerstoele is, een mens kan net soveel eet en soveel sit.
Later het ek verlede week se Huisgenoot uit my handbagasie opgediep en die blokkiesraaisel begin invul, weer gaan stap en poskaarte gekoop en geskryf.
Die boek wat ek op die Internasionale Lughawe O.R. Tambo gekoop het en my ‘n week in Mexiko moes hou, was halfpad gelees toe ek uiteindelik 23:00 die nag aan boord die vliegtuig gaan.
Vyftien ure op die lughawe is nie grappies nie, maar dit is niks teen Nasseri se 18 jaar nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie