Vyfdejaars wil eksamen uitstel, nu00e1 positiewe geval
Vyfdejaars wil eksamen uitstel, nu00e1 positiewe geval

Vyfdejaars wil eksamen uitstel, ná positiewe geval

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die Universiteit van Namibië (Unam) se Mediese Skool onderhandel met beswaarde mediese studente in hul vyfde jaar oor hul voorstelle dat hul eksamens na aanstaande jaar moet skuif.

Dit volg nadat een van die studente positief vir Covid-19 in die noorde van die land getoets is waar die studente by die Onandjokwe- en Oshakati-staatshospitaal uitgeplaas is. Die vyfdejaarstudente beweer die betrokke student het saam met hulle eksamen geskryf en verblyfgeriewe en ’n eksamenlokaal gedeel en hulle sodoende blootgestel.

Unam se woordvoerder, mnr. John Haufiku, het egter by navrae ontken die studente is toegelaat om saam met die positiewe geval te skryf.

“Die student het haar positiewe uitslae op die dag van die eksamen ontvang. Toe die student dit uitvind, het sy alreeds die eksamen afgelê. Sy het die bestuur onmiddellik ingelig en alle voorsorgmaatreëls is in lyn met die nasionale gesondheids- en veiligheidsriglyne getref,” het Haufiku gesê.

Volgens hom het die universiteit simpatie met die beswaarde studente en sal die bestuur oorweging moet skenk aan die akademiese implikasies sowel as die moontlikheid dat die virus steeds in die eerste helfte van die jaar teenwoordig sal wees.

“Unam bly daartoe verbind om ’n besluit te neem wat akademies verantwoordelik is en die gesondheid en veiligheid van ons studente waarborg,” het hy gesê. Die bestuur sou gister vergader het.

Intussen sê die beswaarde studente hulle moes glo by ’n veiligheidswag hoor ’n medestudent het positief getoets en is geen amptelike kennisgewing deur Unam hieroor aan hulle deurgegee nie.

“Ons deel geriewe, van toilette tot die kombuis. Ons het ook klein studiegroepe en word met ’n bus na die eksamenlokaal vervoer,” het een student gesê.

Na bewering het van die studente nou ook Covid-19-verwante simptome begin ontwikkel.

Beweringe word ook gemaak dat die studente glo nie getoets hoef te word nie.

“Ons is nou besig met kliniese eksamens met van die studente by die Oshakati-staatshospitaal en ander by die staatshospitaal op Onandjokwe. Ons kan pasiënte blootstel. Na afloop van die eksamens Vrydag gaan ons terug na ons families wat ons ook kan blootstel.”

Nog ’n bewering is dat SOM wil hê die kliniese eksamens moet soos beplan Vrydag voltooi word, omdat die vliegtuigkaartjies vir die eksterne eksaminator reeds betaal is.

Die groep studente het nou as ’n klas gereël vir massatoetsing omdat “ons almal nie net aan die eerste bevestigde geval blootgestel is nie, maar ook ander ontwikkelende gevalle.”

Die uitslae is eers drie of vier dae ná toetsing beskikbaar. Volgens regulasies beteken dit die studente is nou in self-isolasie totdat die uitslae bekend is. Nog die verblyfgeriewe wat die betrokke student met 21 ander deel, nog die eksamenlokaal is volgens die beswaarde studente sedertdien ontsmet.

Die waarnemende dekaan vir die skool vir openbare gesondheid, prof. Kabwebwe Honore Mitonge, het in ’n brief aan die studente gemaan hulle word opgelei as gesondheidspraktisyns.

“Wat gaan julle doen as julle gradueer, gaan julle weghardloop van gesondheidsgeriewe en jou plig in die lig van ’n uitbreking versaak?” het hy gevra.

Mitonge het gemaan die eksamens gaan voort soos normaal en word op ’n een-tot-een-basis afgehandel met Covid-19-maatreëls wat gevolg word. Met verwysing na dié wat moontlik blootgestel en simptomaties is, het hy gesê die spesiale eksamentoepassing sal geëvalueer word op ’n individuele basis en op meriete met dien verstande dat alle ondersteunende dokumente (mediese sertifikaat, positiewe uitslae ens.) ingedien word.

Geskrewe vraestelle kan ook nie alleenlik as finale uitslae oorweeg word nie, omdat die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) nie die uitslae of graad sal bekragtig nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer