Vyf kinders verdrink oor die naweek
Vyf kinders verdrink oor die naweek

Vyf kinders verdrink oor die naweek

Tanja Bause
Tanja Bause

Die polisie het gister bekend gemaak vyf mense het die afgelope naweek verdrink.
Die 17-jarige Surprise Kasuto het Vrydag om 22:00 in die Safari Hotel se swembad verdrink. Hy was ’n leerling aan Hoërskool Wennie du Plessis op Gobabis en was in Windhoek om ’n gradeplegtigheid by die hotel by te woon.
By die Othithiya-waterpoele in die Omuthiya-kiesafdeling het die 19-jarige David Kristian Vrydag om 10:00 verdrink terwyl hy en vriende in die poele geswem het. Hy was ’n graad 12-leerling aan die Senior Sekondêre Skool Ekulo. Volgens die woordvoerder van die Namibiese polisie, insp. Slogan Mathews, is sy lyk nog nie gevind nie.
Johanna Nangula Shiimi (5) het Donderdag om 10:00 na haar kleuterskool gegaan, maar nie weer teruggekeer huis toe nie. Haar liggaam is Vrydag om 16:30 gevind in ’n waterkanaal wat deur die Okapya-nedersetting vloei. Daar word vermoed dat sy water gaan haal en in die kanaal geval het.
’n Agtjarige seun het by die Oshitha Shembungu-nedersetting in ’n put geval en verdrink. Iitenge Absalom en twee vriende is deur sy ma gestuur om water te gaan haal toe die voorval plaasgevind het.
Verder het die 15-jarige Kakunauye Tjiurura Vrydag by die Otutati-nedersetting naby Opuwo in ’n put geval en verdrink.
Volgens Mathews het sy haar bokke na die put gelei toe daarin geval.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer