VW oortree glo u00f3u00f3k kredietwet
VW oortree glo u00f3u00f3k kredietwet

VW oortree glo óók kredietwet

Volkswagen is die jongste kredietver­skaffer in die visier van Suid-Afrika se Nasionale Kredietreguleerder (NKR).

Dié motorgroep se afdeling vir finansiële dienste hef administrasie-, hanterings- en padbystandstariewe as deel van sy motorfinansieringsooreenkomste, wat die NKR as strydig met die Nasionale Kredietwet beskou.

Volkswagen is opdrag gegee om verbruikers die geld en rente daarop terug te betaal en 'n ouditverslag aan die NKR te lewer as bewys daarvan.

Die NKR is nou al geruimte tyd besig om toe te slaan op kredietver­skaffers wat alles van administrasiegeld tot tydskrifte deel van die finansieringsooreenkoms maak. Dit beteken effektiewelik dat mense óók op daardie geld sowel as op die uitstaande lenings­bedrag rente betaal.

Die NKR is in 'n geskil met onder meer Edcon (moedermaatskappy van Edgars), Lewis, TFG (moedermaatskappy van Foschini) en verskeie ander firmas gewikkel.

BMW Suid-Afrika is onlangs daarvan beskuldig dat hy afleweringstariewe deel van motorfinansiering maak. Hy betwis dat dit onwettig is.

Dié tarief, ook bekend as diensgeld, word gereeld by finansieringsooreenkomste gevoeg. Dié praktyk is algemeen onder die meerderheid Suid-Afrikaanse motorhandelaars en hul finansieringsvennote.

BMW se tarief beloop tussen R3 000 en R6 000.

Edward Makwana, hoof van BMW SA se kommunikasieafdeling, sê die groep betwis die slotsom waartoe die NKR gekom het. Volgens hom word die afleweringstarief tussen die motorhandelaars en verbruikers ­onderhandel.

Navraag is gerig aan Volkswagen oor of hy die beslissing gaan teenstaan.

Nomsa Motshegare, uitvoerende hoof van die NKR, herinner verbruikers daaraan dat hulle mag aandring op 'n kwotasie voordat hulle finansiering aanvaar.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer