Vullisoplossing vir Otji se DRC

Enzo Amuele op Otjiwarongo
Tanja Bause
Die Development Workshop Namibia (DWN) het onlangs ’n vullisversamelpunt, ’n kiosk en ablusiegeriewe aan die informele neddersetting DRC en die Otjiwarongo-munisipaliteit oorhandig.

Hierdie versamelpunt maak dit vinniger en geriefliker vir inwoners van die omliggende omgewing om hul rommel op een plek weg te gooi.

Rommelstrooiing het erger geword weens al hoe meer mense wat na die nedersetting trek, snelle verstedeliking en ekonomiese aktiwiteite, meen die dorpsingenieur, mnr. Naude Slabbert.

“Intussen is dit ’n uitdaging vir die munisipaliteit om met dienslewering te probeer byhou, met die vraag na munisipale dienste wat die aanbod oorskry.

“Soos ons almal weet, is informele nedersettings nie-amptelike gebiede met beperkte geriewe en gevolglik is die bestuur van rommel hier ’n wesenlike probleem vir die meeste, indien nie alle nie, plaaslike owerhede,” het hy gesê.

Slabbert sê hoewel die dorp vraghouers vir vullisverwydering strategies geplaas het, hou inwoners aan om rommel oral te stort, wat ’n oogseer sowel as ’n onhigiëniese omgewing vir inwoners en die natuurlike ekosisteem veroorsaak.

Volgens me. Stephanie French, DWN se programbestuurder, is dit die vyfde DWN-vullisversamelpunt en verreweg die aantreklikste.

“Aangesien deur tot deur vullisverwydering ondoeltreffend is in informele nedersettings, is hierdie vullisversamelpunt ’n gemeenskapsgebaseerde oplossing om te verseker mense woon nie tussen rommel nie,” verduidelik sy.

Een van die inwoners, me. Magdalena Shavatole, het namens die DRC-gemeenskap hul dank teenoor DWN uitgespreek.

“Ek wil al die belanghebbendes bedank wat tot hierdie projek bygedra het; inwoners moes in die verlede lang afstande stap om rommel weg te gooi, wat ongerieflik was. Gelukkig is daar nou ’n vullisversamelpunt wat nader aan ons is wat dinge makliker sal maak,” het sy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer