u201cVul leemtes in waardasierolu201d
u201cVul leemtes in waardasierolu201d

“Vul leemtes in waardasierol”

Billike, regverdige en bekostigbare belasting sál betaal word
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Namibië Landbou-unie (NLU) se grondkomitee, regslui en grondeienaars wil gesamentlik met die minister van grondhervorming onderhandel om die onbetroubare model en regulasies waarop grondwaardasies gebaseer is, “eens en vir altyd” reg te kry.

Dit volg nadat grondeienaars van mening was dat ’n dooie punt bereik is toe landdros Johannes Shuuveni op 10 Oktober ’n uitspraak in die waardasiehof gelewer het dat die hof nie die voorlopige waardasierol kon bekragtig nie omdat die iso-kaart en –waardes van die rol onbetroubaar is.

Grondeienaars meen daar is teenstrydig met dié bevinding opgetree toe besluit is dat die hof steeds sal voortgaan om individuele besware teen dié rol aan te hoor. Sommige grondeienaars se regslui het reeds aangedui dat hulle dié bevinding in die hoërhof gaan betwis.

“Ons het gehoop die landdros sal die waardasierol na die waardeerders terugverwys sodat ons kans kan kry om saam hulle om ’n tafel te sit. Die doel is om oor die leemtes waarop die rol gebaseer is, te onderhandel,” het mnr. Ryno van der Merwe, voorsitter van die grondkomitee en president van die NLU, aan Republikein gesê.

“Dit het egter nie gebeur nie en ons kan nie die rol net so aanvaar nie. Dit noodsaak die NLU en ander betrokkenes om hande te neem en ’n parallelle aksie te begin om met die minister van grondhervorming in gesprek te tree,” het hy gesê.

VOLGENDE STAPPE

Die NLU-grondkomitee het gevolglik onlangs met regslui asook NLU-lede wat op die statutêre Advieskommissie vir Grondhervorming (LRAC) dien, vergader om vas te stel wat die volgende stappe rakende dié kwessie sal wees.

“Ons wil dit duidelik stel: Die NLU het hom sedert 2004 tot die betaling van grondbelasting verbind, maar handhaaf die standpunt dat dit billik, regverdig en bekostigbaar moet wees.

Ons verbind ons steeds daartoe om dit te betaal, maar dan moet die waardering van grond vir grondbelastingdoeleindes wetenskaplik verantwoordbaar wees en die produksie-potensiaal van die grond in ag geneem word.

“Regslui het in die waardasiehof betoog dat die voorlopige waardasierolle van 2012-17 nie aan al die regulasies van die wet voldoen nie en veral teenstrydig is met plase se produksie-potensiaal. Dit stem ooreen met die NLU se standpunte wat ons sedert 2013 by die minister van grondhervorming probeer tuisbring,” het Van der Merwe gesê.

Hy sê regslui het tydens die waardasiehofsitting deurlopend met onder meer die NLU gekonsulteer oor die bevestiging van hul argumente en standpunte. Die regslui het ’n tegniese komitee hiervoor gestig.

Van der Merwe sê die saak het ’n lang aanloop en dat die NLU reeds in 2012 met die destydse minister van grond en hervestiging, mnr. Alpheus !Naruseb, vergader het om die standpunt te stel dat die voorlopige waardasierol nie met hul standpunt ooreenstem dat dit billik, regverdig en bekostigbaar moet wees nie. Daar is onlangs ook met die nuwe minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, vergader.

Tydens 2012 se NLU-kongres is lede aangemoedig om die sterkste beswaar teen dié rol aan te teken en, waar nodig, regsverteenwoordigers te kry om hul saak te verteenwoordig. Dié rol is uiteindelik in die hoërhof op grond van ’n tegniese punt verwerp.

In 2013 is verskeie voorstelle aan die minister van grond en hervestiging asook hul konsultante gemaak oor hoe leemtes in die verwerpte voorlopige waardasierol reggestel kon word. Daar is ook onderhandel oor hoe die rol by regulasies aangepas kon word.

Dié 2012-waardasierol is weer tydens onlangse waardasies en hofsitting gebruik.

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer