Vuis-in-die-lug-ode aan vrou
Vuis-in-die-lug-ode aan vrou

Vuis-in-die-lug-ode aan vrou

Lloyd Zandberg
Stella Fourie

Godvresend, onderdanig, gehoorsaam, ondersteunend en aanvaardend – dit is Nellie van der Merwe. Sy maak die regte geluide, doen haar deel, byt op haar lip en is nie dwarstrekkerig nie. Sy is die verpersoonliking van wat die patriargale samelewing van haar verwag om te wees. . . en sy is tot in haar siel toe moeg, afgestomp, hartseer en getraumatiseer.

Die leser leer Nellie ken wanneer sy vir haar jaarlikse besoek aan die ginekoloog gaan – ’n onbenydenswaardige ondervinding vir elke vrou. Hierdie keer, egter, is dit nog erger, want die nuwe ginekoloog vra moeilike vrae wat ou wonde oopkrap en sy vind boonop uit dat sy ’n histerektomie moet ondergaan.

Die pad voor en ná Nellie se histerektomie word as ’t ware haar opstandingsreis: sy besef waarhede oor haarself, haar huwelik en haar familie. Vir die eerste keer sien sy haar lewe vir wat dit werklik is – keuses wat sy gemaak het, wat sy oorgesien het, wat sy nie wou sien nie, wat sy maar geleer het om mee saam te leef en dit wat aan haar gedoen is.

Kantelpunt is ’n uiters interessante werk wat geskryf is op die Hipomnemata-formaat. Hipomnemata beteken “herinneringe” in Grieks en verwys na ’n versameling aanhalings, inskrywings, navorsingsuittreksels en idees ter ondersteuning van die skrywer se lewensverhaal. Nellie se verhaal is deurspek met, onder meer, navorsingstukke, boek- en rolprentuittreksels asook dagboek-inskrywings wat haar gedagtepatroon illustreer en die leser insig gee in haar binnestem en intellek. Hierdie hipomnemata-formaat doen meer as net die blote vertel van ’n storie: dit voed op, konfronteer op ’n morele vlak, hou ’n spieël op en neem ook die leser op ’n persoonlike ontdekkingsreis.

Sophia Kapp, ’n vorige ATKV-Veertjiewenner, bekend vir liefdesromans soos Erflating, Driehoek en Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva, slaan hiermee ’n nuwe rigting in. Sy ondersoek die omgewings-, oortuigings- en verwagtingslens waardeur ’n wit, middeljarige Afrikaanse vrou haar lewe beskou, sowel as die gevolge wanneer sy die status quo uitdaag. Nellie se storie is ’n veelvlakkige ontwakings- en bewuswordingstog waar familie-dinamika, feminisme, seksuele trauma, rassisme, seksisme, homofobie, emigrasie en vele ander netelige maar belangrike onderwerpe aangeraak word.

Hierdie boek se tydsberekening is uiters gepas in die lig van veldtogte soos #MeToo, sowel as die globale bewusmaking van geslagsgelykheid, onregverdige behandeling, fisieke en seksuele aanranding en die vernedering van vroue. Kantelpunt is ’n heerlike vuis-in-die-lug-ode aan die innerlike krag van die hedendaagse vrou. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-08-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer