VSA help wildstropery stopsit
VSA help wildstropery stopsit

VSA help wildstropery stopsit

Amerika het vanjaar US$50 miljoen geskenk om die oorlog teen wildstropers te ondersteun.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn

Die Amerikaanse regering is bewus van ’n aantal transnasionale sindikate wat aktief betrokke is by wildstropery. Om dit te bekamp, werk die Amerikaanse buro vir internasionale narkotika en wetstoepassing nou met onder meer Namibië saam.

Die Amerikaanse adjunkminister in die ministerie van buitelandse sake se buro vir internasionale narkotika en wetstoepassing, mnr. Dan Foote, het Donderdag tydens ’n telekonferensie met joernaliste in Afrika gesê hy kan nie besonderhede oor die sindikate verskaf nie omdat dit die onderwerp van ondersoeke is.

Hy is egter bemoedig deur die samewerking met Amerikaanse owerhede en ’n toename in beslagleggings en inhegtenisnemings.

Foote het die voorbeeld genoem van twee internasionale seniorbestuurders wat onlangs in gesamentlike operasies deur Kongolese en Zambiese wetstoepassers en Amerika oor onwettige handel in ivoor vasgetrek is. Op die Internasionale Lughawe Entebbe, in Uganda, is vanjaar reeds beslag gelê op 30 besendings onwettige ivoor.

"Ons werk nou saam met Namibië en wetstoepassers woon al ons opleidingsgeleenthede by," het Foote gesê.

Namibië is volgens Foote een van die lande waar die samewerking die meeste welslae behaal het en waar ’n vroeë waarskuwingstelsel nou in werking is.

In Julie vanjaar het die Amerikaanse ambassadeur in Namibië, mnr. Thomas Daughton, in samewerking met die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) ’n bedrag van N$23,4 miljoen ter ondersteuning van die ministerie van die omgewing en toerisme vir die bekamping van onwettige handel in wildprodukte bewillig.

Die skenking is deur die buro vir internasionale narkotika en wetstoepassing beskikbaar gestel. Die bewaringsprojekte sal in samewerking met die nieregeringsorganisasies, Intelligence Support Against Poaching (Isap), die Regshulpsentrum (LAC), die Natuurlike Hulpbronne-werkgroep (NRWG) en die Save the Rhino Trust geïmplementeer word.

Foote het tydens die telekonferensie gesê onwettige handel in natuurlewe is nie net verwoestend vir die omgewing nie, maar ondermyn die regstaat, moedig korrupsie aan en skep onstabiliteit. Sy buro is in 30 lande werksaam waar die wetlike raamwerk versterk word en waar proaktief opgetree word om die euwel te bekamp.

Namibië is een van vyf lande in Afrika waar die buro regstreeks betrokke is. Die ander lande is Suid-Afrika, Botswana, Tanzanië en Kenia. Eersdaags sal Zambië en Malawi ook aan boord kom.

Die buro het ook ’n opleidingsentrum in Gaborone, Botswana, waar opleiding aan wetstoepassers van die vasteland gegee word en waar die lesse wat uit die bekamping van onwettige dwelmhandel geleer is, nou op die bekamping van onwettige handel in natuurprodukte toegepas word.

Die Amerikaanse buro werk ook nou saam met die Verenigde Nasies se kantoor vir die bekamping van dwelms en misdaad, en Interpol.

Amerika het vanjaar US$50 miljoen vir die bekamping van die onwettige handel in natuurprodukte wêreldwyd bewillig en hiervan gaan net meer as die helfte aan Afrikalande.

Foote wys daarop dat die finansiële verliese vir lande wat stropers ten prooi val, enorm is. Wildstropery en onwettige handel is misdade van lae risiko en hoë opbrengste. Dikwels is die strawwe wat oortreders opgelê word lig, omdat dit eerder as ’n bewaringsaangeleentheid beskou word en nie as transnasionale misdaad nie.

Daar is ook toenemende bewyse dat terroristeorganisasies soos die Islamitiese Staat (IS) in Afrika, Al-Sjabaab en die Lord’s Resistance Army onwettige handel in wildprodukte gebruik om hul werksaamhede te finansier.

"Kriminele organisasies buit arm gemeenskappe uit wat die gestroopte produkte aan tussengangers lewer. Soms is daar gevalle waar stropers natuurbewaarders omkoop en waar smokkelaars doeanebeamptes omkoop," het Foote gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-06-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer