• Tuisblad
  • Sport
  • VSA-blitse kan horlosie terugdraai na 1912 se Spele
VSA-blitse kan horlosie terugdraai na 1912 se Spele
VSA-blitse kan horlosie terugdraai na 1912 se Spele

VSA-blitse kan horlosie terugdraai na 1912 se Spele

Atletiek
As die wêreldranglys en huidige peil enige aanduiding is, kan die geskiedenis hom vanjaar moontlik die eerste keer in meer as ’n eeu by die Olimpiese Spele herhaal.
In 1912 het die VSA ’n prestasie in die mans se 100 meter behaal wat sedertdien nog nie weer geëwenaar kon word, naamlik dat al drie medaljes in die eindronde van dié wedloop deur Amerikaners gewen is.
Destyds was dit Ralph Craig (goud), Alvah Meyer (silwer) en Donald Lippincott (brons) wat skoonskip gemaak het. Nou, 109 jaar later, kan die trio Trayvon Bromell, Ronnie Baker en Fred Kerley moontlik in Tokio hul voorgangers van die vorige eeu nadoen.
Bromell, sover vanjaar die vinnigste atleet in die wêreld, het die Amerikaanse Olimpiese uitdunne Sondag in Eugene, Oregon, in ’n blitstyd van 9.80 sekondes gewen, met Baker (9.85) en Kerley (9.86) wat kort op sy hakke gevolg het.
Dié drietal spog nou tussen hulle met vanjaar se vier vinnigste tye. Bromell het drie weke gelede ’n selfs haastiger 9.77 gehardloop.
Toe die diep gelowige Bromell Sondag oor sy oorwinning uitgevra is, vyf jaar nadat ’n besering sy Olimpiese veldtog in Rio de Janeiro ontspoor het, het hy alle eer aan God gegee en gesê hy “hardloop vir Christus”.
Die veteraan-naelloper Justin Gatlin (39) kon nie vir ’n vierde Spele kwalifiseer nie. Hy het weens ’n beenbesering in die agtste plek oor die wenstreep gehinkepink.
Noah Lyles (33) het slegs sewende geëindig, maar sal sy visier nou rig op ’n oorwinning in die 200, die item waarin hy die wêreldkampioen is.
Die superster Allyson Felix het seker gemaak dat sy aan haar vyfde Spele gaan deelneem.
Sy het tweede geëindig in die 400 in ’n tyd van 50.02. Sy spog reeds met nege Olimpiese medaljes.
Met haar tweejarige dogter, Camryn, wat vanuit die paviljoene dopgehou het, het Felix nogmaals ’n indrukwekkende vertoning gelewer.
“Dit was ’n stryd om tot hier te kom en een ding wat ek weet hoe om te doen, is te baklei,” het Felix ná haar wedloop gesê.
“Om ’n vyfde Spele se haal, is só spesiaal.”
Felix, wat ’n ongeëwenaarde 13de goue medalje verower het in die Wêreldkampioenskappe in 2019, sal haar in die Tokio-400 aansluit by Quanera Hayes, wat gewen het in 49.78 en Wadeline Jonathas, wat derde was in 50.03.
Felix se dogter en Hayes se seun het ná hul wedloop op die baan gekom om vir hul ouers drukkies te gee.
– Netwerk24, Reuters

FOTO
Ronnie Baker, Trayvon Bromell en Fred Kerley sal die VSA in die 100 meter in die Olimpiese Spele in Tokio verteenwoordig. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer