VSA aanvaar omstrede wet teen opkikkers
VSA aanvaar omstrede wet teen opkikkers

VSA aanvaar omstrede wet teen opkikkers

Andrew Poolman
'n Wetsontwerp wat die VSA sal toelaat om enigiemand te vervolg wat betrokke is by opkikkers op internasionale sportgeleenthede, is deur dié land se senaat goedgekeur.

Die “Rotsjenkof-wet teen die gebruik van verbode middels” sal owerhede in die VSA toelaat om afrigters, bestuurders en beamptes (wat opkikkers aan sportlui verskaf of die gebruik toelaat) by enige sportbyeenkoms waar Amerikaanse atlete deelneem, te beboet of selfs strafregtelik te vervolg en tronkstraf op te lê.

Atlete word wel van hierdie wet kwytgeskeld aangesien hulle reeds onderhewig is aan die Wêreldagent­skap teen verbode middels (Wada) se regulasies en vervolgingsprosedures.

Waar die Amerikaanse agentskap teen die gebruik van verbode middels (Usada) vol lof was vir dié wetsontwerp, sing Wada die teenoorgestelde deuntjie en is bekommerd dat dit bestaande prosesse kan ontwrig en fluitjieblasers afskrik. Witold Banka, Wada-president, is ook bekommerd dat die nuwe wet nie op universiteit-sportsoorte of beroepsligas in die VSA van toepassing sal wees nie.

Die wetsontwerp is vernoem na Grigori Rotsjenkof, die Rus wat eerste inligting rakende 'n staatsgesteunde opkikkerprogram in Rusland ontbloot het.
– Netwerk24

FOTO
Travis Tygart, uitvoerende hoof van Usada. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer