Vrywilliger samel brille vir Kavango se kinders in
Vrywilliger samel brille vir Kavango se kinders in

Vrywilliger samel brille vir Kavango se kinders in

Gerine Hoff
Dr. Martin Dickinson, ’n vrywilliger wat aan die Amerikaanse vredeskorps verbonde is en onderwys gee by die Sekondêre Skool Noord­grens op Rundu, het onlangs bykans 300 brille vir leerlinge ingesamel.
Die brille is bestem vir leerders in die twee Kavangostreke wat dit nie kan bekostig nie.
Voordat Dickinson by die skool aangesluit het, het hy ook klasse by die Primêre Skool Mayenzere in die Kavango-Wesstreek aangebied. Dit was in sy tyd hier wat hy besef het dat nie een van die 700 leerlinge daar bril dra nie.
“Dit was die eerste keer wat ek by ’n skool klas gegee het waar niemand ’n bril dra nie en ek was onder die indruk elkeen van hulle het perfekte sig,” ­het Dickinson gesê.
Hy het sy waarneming met die skoolhoof gedeel, wat toe verduidelik het dat daar wel kinders is wat brille benodig, maar dit nie kan bekostig nie.
Dickinson het toe ’n paar vriende in Amerika gekontak en hulle het hom gehelp om brille vir kinders in die streek in te samel.
Ná die leerlinge getoets word, sal die brille nou na die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste geneem word sodat die nodige lense voorsien kan word.
’n Honderd brille gaan aan leerlinge van die Primêre Skool Mayenzere terwyl die res aan ander behoeftige leerlinge by ander skole in die streek gegee sal word.- Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer