• Tuisblad
  • Sport
  • Vrystaters word Eagles se vyfde reekssege op 'n streep
Vrystaters word Eagles se vyfde reekssege op 'n streep
Vrystaters word Eagles se vyfde reekssege op 'n streep

Vrystaters word Eagles se vyfde reekssege op 'n streep

Krieket
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die afgelope maande se hardgebakte wenkultuur by die Namibiese krieketspan het opnuut in Bloemfontein deurgeskyn in die oorwinning met 22 lopies waarmee hulle gister die T20-reeks teen die Knights beklink het.

Die laaste wedstryd in die reeks van die vyf word môre gespeel, maar afrigter Pierre de Bruyn se Eagles hou reeds 'n onkeerbare 3-1 voorsprong.

Die Vrystaters kon op hul tuisveld óók nie vir Gerhard Erasmus en sy manne keer nie, wat sedert hul terugkeer in April ná die Covid-onderbrekings reeds met vier opeenvolgende tuisreekse teen Uganda, Ontluikende Suid-Afrika, Ontluikende Zimbabwe én die Titans kon spog.

Die oefenkamp in Bloemfontein was die Namibiërs se laaste wedstrydaksie voordat die toerspan vir volgende maand se T20 Wêreldbeker-debuutverskyning aangekondig word.

Die ervaring van die veelsydige Jan Frylinck het tot gister se uitstaande individuele vertoning bygedra, toe hy met 'n haastige vyftigtal gehelp het om die indrukwekkende Namibiese kolftotaal (189/5) tot buite bereik van die Vrystaters op te stoot.

Frylinck se 54 nie uit nie is van net 29 balle aangeteken en het drie sesse en vier viere ingesluit. Hy het op 85/4 ná 10.4 boulbeurte ingestap en was in handige vennootskappe van 59 lopies met Gerhard Erasmus (22 van 24 balle, 1x4) en 'n onoorwonne 45 saam met Pikky ya France (20* van 9 balle, 1x4 1x6) betrokke.

JJ Smit was ook op sy stukke met sy 30 lopies van net 14 balle, waarin hy drie sesse en en twee viere op die wyd uitgestrekte Mangaung-ovaal aangeteken het om die kolftempo betekenisvol te lig.

Die Namibiese topdrie kolwers het die span doeltreffend tot op 52/3 (7.1 boulbeurte) uit die wegspringblokke gekry voordat Stephen Baard (16 van 11 balle), Zane Green (23 van 25 balle) en Craig Williams (10 van 8 balle) uitgehaal is.

Toe die Vrystaters, wat die loot verloor het, gaan kolf, was hulle vroeg al op die agtervoet met JJ Smit wat in sy eerste boulbeurt beide Matthew Kleinveld (4) en CP Klijnhans (0) laat uitvang het.

Twee boulbeurte later het Frylinck vir Jacques Snyman (12 van 13 balle) skoongeboul om die Knights op 24/3 ná 4.1 boulbeurte te laat steier.

Die tuisspan se herstelpoging het aan die gang gekom danksy kaptein Pite van Biljon (95 nie uit nie van 59 balle, 10x4 2x6), maar 'n keerpunt was toe hy sy kolfmaat Farhaan Behardien teruggestuur het om nie 'n tweede lopie te waag nie. Behardien (40 van 27 balle, 3x4 1x6) is uitgehardloop deur Jan Frylinck se gooi na Zane Green en van dié punt af (90/4 ná 11.5 bb) kon geen van die Vrystaatse kolwers hulle weer saam met hul kaptein ingegrawe kry nie.

Die Knights eindig op 167/7, nadat hulle nooit rêrig 'n greep kon kry op die ekonomiese boulwerk van manne soos JJ Smit (2/27 in 4), Frylinck (1/17 in 3) en Bernard Scholtz (1/16 in 3) nie.

[email protected]

FOTO
Jan Frylinck (regs), met ’n onoorwonne vyftigtal, en JJ Smit was gister as kolwers én boulers goed op dreef in die sege teen die Knights. Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer