Vrystaat en Leeus (44-44) deel louere
Vrystaat en Leeus (44-44) deel louere

Vrystaat en Leeus (44-44) deel louere

Rugby
Johann de Jager – Die Vrystaat-Cheetahs en die Leeus het Woensdagaand in Bloemfontein gelykop gespeel in ’n drieëfees waarin die telling deurgaans wipplank gery het.
Dié Curriebeker-wedstryd, waarin elke span ses drieë gedruk het, het met 44-elk gelykop geëindig. Die Vrystaters het rustyd met 23-17 voorgeloop.
Rabz Maxwane, speler van die wedstryd, het ’n punt gemaak teen sy voormalige spanmaats en so hittete die wedstryd vir die Leeus deurgetrek.
Die haastige vleuel het die besoekers in die eerste helfte terug in die wedstryd gekry en in die tweede helfte by twee geleenthede die Leeus gehelp om die voorsprong te herwin toe die Cheetahs hul neus voor gehad het.
Reg aan die begin het niks vir die besoekers reg verloop nie.
Daar is geval met ’n skrum, skeef ingegooi met ’n lynstaan en toe hulle ’n bal ná ’n dryfmaal verloor het wat op ’n drie vir die Cheetahs uitgeloop het, was hulle ná minder as ’n kwartier reeds met 0-15 agter.
Die Leeus moes weens mediese protokol drie veranderinge in die beginspan maak en dit het net begin lyk of dit hulle ontwrig het, toe Maxwane in ’n ommesientjie die skaal weer ewewig gee.
Eers het Maxwane ’n lugskop gewen wat op die agtsteman, Ruhan Straeuli, se drie uitgeloop het. Daarna het hyself gaan druk.
Die haker, Jaco Visagie, het ’n blitzkrieg van drie drieë binne vyf minute vir die Leeus voltooi toe hy afgerond het ná ’n lynstaan voor die tuisspan se doellyn.
Die besoekers het daarmee eensklaps met 17-15 voorgeloop.Hulle was in 10 van die oorblywende 20 minute sonder die flank Sibusiso Sangweni wat ’n geel kaart gekry het.
Die Cheetahs se woelwater-haker, Marnus van der Merwe, het ’n slag oorgebars, maar kon die bal nie plant nie, voordat die vleuel Craig Barry op die punt oor bewerkstellig is om ook ’n derde drie vir die tuisspan te gaan druk.
In die tweede helfte het dit steeds drieë gereën, met die spanne wat om die beurt die voorsprong geneem het.
Sangweni het sommer vroeg in die tweede helfte vergoed vir sy kaart toe hy onderskep het met die Vrystaters sterk op die aanval.
Die vleuel Stean Pienaar het die beweging afgerond om die Leeus met 27-23 weer te laat voorloop.
Die voorsprong het bly wissel.
Die besoekers het teen die einde goed aangeval nadat die Vrystaters die laaste tien minute as voorlopers binnegegaan het.
Die Leeus het ná ’n paar strafskoppe in ’n ry met drie minute oor besluit om tog pale toe te skop reg voor die pale om die louere te deel.
• Puntemakers:
Vrystaat-Cheetahs 44 (23):
Drieë: Ruan Pienaar, David Brits, Craig Barry, Louis van der Westhuizen, Malcolm Jaer, Andisa Ntsila. Doelskoppe: Pienaar (4). Strafdoele: Pienaar (2).
Leeus 44 (17):
Drieë: Ruhan Straeuli, Rabz Maxwane (2), Jaco Visagie, Stean Pienaar, Burger Odendaal. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (4). Strafdoele: Hendrikse (2).
– Netwerk24

FOTO
David Brits, senter van die Vrystaat-Cheetahs, het die bal netjies in die hoekie geplaas gekry met sy lyf reeds buite die speelveld. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2025-08-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer