Vrypas om te droom
Johannes de Villiers
Die Alchemis deur Paulo Coelho, in Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R180.
Loop so ’n paar dae met hierdie boek onder jou arm rond en kyk wat gebeur. Links en regs wil mense met jou daaroor gesels. “Wat dink jy daarvan? Het dit jou lewe ook verander? Glo jy ook nou aan jou drome?”
In boekwinkels wêreldwyd word Die Alchemis agter die toonbank eerder as op die rakke gebêre, glo omdat dit een van die boeke is wat die meeste gesteel word, vermoedelik deur mense wat desperaat is om ook weer aan drome te glo.
Die Alchemis is reeds in 2003 in Afrikaans vertaal en is pas weer deur Protea uitgegee. ’n Mens wonder hoekom juis nóú.
Die laaste paar dekades het bitter min boeke wêreldwyd verskyn waaroor so baie mense so gaande is. Dalk die Harry Potter-reeks. Maar hoewel Die Alchemis nes die Potters ’n sprokie is, is sy aanhangers dikwels volwassenes eerder as kinders.
Dis nie ’n dik boek nie – 175 bladsye in Afrikaans – en die storie is eenvoudig: ’n Skaapwagter in Spanje sien ’n visioen van ’n skat wat naby die piramides begrawe is en hy reis soontoe. Halfpad deur die Sahara-woestyn in Noord-Afrika raak hy op ’n meisie in ’n oase verlief en hy ontmoet ’n towenaar wat hom leer om met die wind te kommunikeer. Almal wat hy teëkom, deel met hom lewenswyshede à la Kahlil Gibran, en gaandeweg word die boek se eenvoudige lesse ál duideliker: Volg jou lewensideale wat deur die heelal in jou hart geplant is. Die rykste skat is altyd binne jou bereik as jy net jou oë oopmaak.
Een aspek waarop mense verlief geraak het, is die poëtiese taal, en die vertaler, Kobus Geldenhuys, gee dit dikwels goed weer.
“Sê vir jou hart die vrees vir swaarkry is erger as die swaarkry self,” skryf hy op een plek. “En geen hart het al ooit swaargekry wanneer hy sy drome volg nie, want elke sekonde van die soektog is ’n sekonde in die teenwoordigheid van God en van die ewigheid.” Sela.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie