Vryheid, veiligheid en vernuf
Daniël Hugo: My gedigte is gedigte van verstand
Henriette Lamprecht – Dit sal hom altyd bybly, die vryheid en die veiligheid. Vryheid nie net in die natuur nie, maar ook die vrye omgang met verskillende soorte mense. Grootwordjare in Namibië waarvan hy “boeke en digbundels vol” onthou.
Die gevierde Afrikaanse digter, vertaler, resensent en aanbieder, Daniël Hugo, vertel op ’n dag in die middel van die week op ’n voorstedelike stoep in Windhoek, hy moes eintlik in Namibië gebore gewees het. Sy pa was as predikant in diens van Warmbad en sy mense in die Suide en hier naby was geen teken van ’n dokter of ’n hospitaal nie.
“Ek is toe maar ‘uitgevoer’ Stellenbosch toe waar my oumas en oupas almal gewoon het, na die staatshospitaal waar g’n mens meer sy voete sit nie!”
Sy pa het later ’n beroep na Greyton in die Overberg aanvaar waar hy die eerste twee jaar van sy skoolloopbaan voltooi het, maar daarna is hy weer terug Windhoek toe waar hy ’n leerling aan die Primêre Skool Van Rhyn en toe die Sekondêre Skool Jan Mohr was.
“Wat ek veral onthou, is hoe veilig Windhoek was. Ons het elke naweek met ons fietse uitgery, gaan slaap êrens in ’n droë rivierloop of uitgery op die Khomas Hochland- en die Rehoboth-pad.”
Dit was wonderlik, erken hy, die vryheid en die veiligheid wat ’n mens gehad het.
Natuurlik was dit ook vir hom vormend en belangrik dat hy in Khomasdal in ’n bruin gemeenskap grootgeword het waar sy pa predikant was.
“Daai tyd was dit baie vreemd dat bruinmense by witmense aan huis kom. Daar was gemeentelede wat by die pastorie gekom het, saam met ons geëet het aan tafel en soms oorgeslaap het. My pa het nogal moeilikheid gekry by sy wit kollegas!”
Sy liefde vir Afrikaans en die woord skryf hy toe aan die invloed van sy ma wat ’n “geweldige leser” was.
“Daar was altyd boeke in die huis gewees. My pa was altyd lief vir die poësie en het altyd versies van AG Visser opgesê. Hy het eintlik nooit verder gekom as dit nie! My ma het darem gevorder tot by Elizabeth Eybers.”
Hugo is voltyds besig met vertaalwerk, meestal uit Nederlands maar ook Engels. Die besluit oor watter boek, berus by die uitgewer, vertel hy.
“Dis meestal boeke wat pryse gewen het, reeds in ander tale vertaal is en ook baie goed verkoop het,” sê hy.
Eerste bladsy, eerste woord
Die vertaalproses begin “op die eerste bladsy met die eerste woord”.
“Jy kan nie letterlik vertaal nie, maar moet idiomaties vertaal. Die Nederlandse en Afrikaanse manier van sê verskil nogal.”
Natuurlik is daar ook baie woorde in Nederlands wat bekend lyk, maar wat totaal ander betekenisse het, verduidelik hy.
“Jy kan jou vasloop daar met die sogenaamde valse vriende! As jy net getrou vertaal, sal die stem en die styl deurkom.”
Die proses van vertaal tot die boek uiteindelik op die rakke is, kan tot ’n jaar duur.
“Vertaling hang natuurlik af van hoeveel woorde die boek het. Dit wissel tussen drie en ses maande, dan neem dit nog drie tot ses maande voor die boek verskyn.”
Hy erken hy sal “mal word” as hy net vertalings gedoen het en hou homself ook besig met resensies - meestal vir Rapport se boekeblad, terwyl hy ook manuskripte vir uitgewers keur en redigeer.
Oor die kriteria vir keuring wil hy homself nie te veel uitlaat nie.
“Jy beveel aan of ’n boek uitgegee word, maar die finale keuse lê by uitgewers. Dit berus op jare lange leeswerk.”
Verskeie faktore speel ’n rol in die keuringsproses met die belangrikste dat jy “baie gelees het in jou lewe” om ’n vergelykingsbasis te hê.
Uitgewers moet ook voel die boek sal genoeg belangstelling wek om verkope ’n hupstoot te gee.
Hy erken min mense lees gedigte - meer luister graag daarna.
Vers en klank
“Dis ’n baie klein mark, daar word nooit meer as 500 eksemplare van ’n digbundel gedruk nie en nog minder verkoop!”
Die program Vers en Klank op RSG waartydens hy as aanbieder gedigte voorlees, het ’n groot, getroue gehoor.
“Dis nou mense wat nooit ’n digbundel sal koop of probeer lees nie.”
Daniël se laaste vertaling was ’n nie-fiksie boek oor die Khoi-mense van Suid-Afrika en Namibië. Die boek gaan oor die Khoi se geskiedenis en huidige grondeise en is deur die Nederlander Bart de Graaff geskryf. Die titel van die boek is Ek, Yzerbek en fokus onder meer op die nageslag van Goliat Yzerbek.
“Dit handel oor die Griekwas, die Khoranas en die Namas wat dan nou veral die Oorlams en die Fleermuyse insluit. Dit was regtig vir my baie interessant en soort van terugkeer na my kinderjare.”
Nog ’n vertaling uit Hugo se stal is ’n roman oor die Anglo-Boereoorlog deur die Namibiese skrywer Joyce Kotze, The Runaway Horses. Die boek is uit Engels vertaal en is gebaseer op Kotze se familiegeskiedenis. Dit verskyn in Maart as Wintersrust.
Daniël was verlede jaar by die vertalershuis in Antwerpen waar hy gewerk het aan Oorlog en Terpentyn, ’n roman van Stefan Hertmans wat hy uit Nederlands vertaal het en wat pas verskyn het.
Hertmans neem ook deel aan vanjaar se Woordfees op Stellenbosch waar hy en Hugo onder meer ’n werkswinkel oor vertaling vir studente sal aanbied.
Hy erken volwasse Afrikaanse lesers is nie gretig om Afrikaanse vertalings te lees nie.
“Hulle sal eerder dieselfde boek in Engels wil lees. As jy ’n Afrikaanse vertaling het en die skrywer se naam is vreemd, dan skrik hulle, maar sal dieselfde boek met dieselfde vreemde naam in Engels lees!”
Kulturele boikot
Sy liefde vir Vlaams en Nederlands het in sy studentejare op Stellenbosch begin waar hy Afrikaans-Nederlands as vak gehad het. Ná sy studies op die Bos, het hy in 1983, in die tyd van die kulturele boikot, in België gewoon.
“Ek was eintlik onwettig daar, met die gevolg dat ek nie kon eksamen skryf of ’n kwalifikasie kon verwerf nie, maar wel klas bywoon.”
Hy was aanvanklik Stellenbosch toe om predikant te word, maar die lewe sou ander draaie met hom loop.
Met die aanvang van Daniël se studiejare was dit die gebruik om te begin met ’n BA in tale en om later oor te slaan teologie toe.
“Ek moes Hebreeus doen en daarmee saam het ek Afrikaans-Nederlands geneem, daarmee aangegaan en ook my Honneurs gedoen. Ek sou daarna kweekskool toe gaan, maar toe roep die weermag my op in 1977. Ons was die eerste groep wat twee jaar gedoen het.”
Omdat hy ’n graad gehad het, is hy nie opgeroep grens toe nie. In die tyd wat hy vir “twee jaar in Pretoria in ’n kantoor gesit het”, het hy ook sy MA-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal.
“Ek het in weermag tyd gehad om in die biblioteek te gaan sit!”
Sy vertaalwerk uit Nederlands het eintlik heeltemal onverwags gebeur.
In 1995 lewer die Nederlandse digter, Tom Lanoye, voorlesings uit sy eie werk en in veral sy bundel Kartondose by die tweede Klein-Karoo Nasionale Kunstefees.
Kartondose
“Hy wou nie net uit Nederlands lees nie, maar ook sekere dele in Afrikaans. Deur sy uitgewer het hy by my uitgekom om daardie gedeeltes te vertaal. Die uitgewer Frederik de Jager, wat toe by Quillerie was, deesdae NB Uitgewers, sê toe maar hy wil die boek uitgee. So volg my eerste opdrag om Kartondose te vertaal!”
’n Gedig kan op baie maniere begin, vertel hy. Iets wat jy sien, hoor of voel, maar ook deur die taal self.
“Jy kan ’n interessante rymwoord ontdek of ’n woordspel of ’n uitdrukking wat jy nog nie voorheen gehoor het nie. Daar is baie maniere, maar die taal self speel ook ’n belangrike rol as inspirasie vir ’n gedig.”
Die proses kan vinnig of moeisaam wees, erken hy.
Die vrugbaarste tyd is vroeg soggens, net nadat jy wakker geword het en nog tyd het om stil te lê en nie nodig het om op te spring nie, dan kom daar dinge uit jou onderbewuste, sê hy, dinge wat jy in die nag oor gedroom het of so wat terugkom.
Hy is bevrees hy het nie ’n boekie waarin hy dié gewaarwordinge vaspen nie. Maar dit is gevaarlik, erken hy, veral as jy “daai oggendding doen of in die nag wakker word en aan iets dink en jy skryf dit nie neer nie en die volgende dag is dit weg!”
Die gevaarlikste ding wat jy kan doen is om jou leser voor jou te sien as jy begin skryf, sê hy.
“Veral as jy jou rig op ’n resensent, daar is maar ’n klein groepie resensente wat poësie resenseer, so jy weet presies wat die moontlikhede is oor wie jou boek kan resenseer. As jy hulle begin in gedagte hou om hulle tevrede te stel, gaan dit nie werk nie.”
Hy erken die soort gedig wat hy skryf, maak die klein groepie poësielesers wat daar is, nog kleiner, omdat hy skryf wat bekend staan as vernufpoësie, iets wat nie in almal se smaak val nie.
“Dis poësie wat baie sterk met woordspel werk en nie baie lesers hou daarvan nie. Hulle wil meegevoer word en soek gevoelens en emosie in poësie en daar is min daarvan.”
Gedigte van verstand
Sy gedigte is meer “gedigte van die verstand”, maar ook tog vermaaklik.
“Mense dink poësie moet ernstig en meevoerend wees, dit mag nie humoristies of slim wees nie. Maar die ernstige, meevoerende gedigte is meestal maklik begryplik.”
’n Opgaarder van boeke is hy, van digbundels tot biografieë van skrywers, wat buiten sy biblioteek “verspreid deur die huis en van die gang tot die sitkamer” staan.
Daniël besoek graag tweedehandse boekwinkels waar hy sy grootste aankope doen en “wonderlike goed” kry. Ook is daar die boeke wat hy vir koerante, tydskrifte en die radio moet resenseer.
“Toe ek die skrywersprogram gehad het, het ek natuurlik alles gekry wat nuut is, stapels en stapels boeke. Al die boeke wat nie geskik was om op radio geresenseer te word nie, het ek vir my ma, wat by die stadsbiblioteek gewerk het, gegee. Ek het gekonsentreer op literêre boeke, die ontspanningsboeke en liefdesverhale het ek vir haar gestuur.”
Vernuftige digter
Die digter wat die grootste invloed op hom gehad het, was DJ Opperman - omdat hy ook “’n vernuftige digter” was. Ook het hy groot bewondering vir Elizabeth Eybers.
“Opperman kon vernuftig rym, maar ’n mens ontgroei darem ook jou idole.” Van sy tydgenote sê hy is Johann de Lange sekerlik die beste, terwyl Gerrit Komrij en Herman De Coninck vir hom onder die groot Nederlandse digters tel.
Dis moeilik om ontledend oor homself te praat, erken hy op ’n vraag oor die Daniël wat in 1981 met Brêkvis met vier debuteer het en die Daniël van nou.
“Dit gaan nog maar altyd oor dieselfde temas, maar hopelik op ’n ander manier as destyds.”
Daar is natuurlik heelwat gedigte wat hy vandag sou “uitgegooi het”, maar so gaan dit maar altyd.
“Jy is nooit heeltemal seker of dit reg is nie. Op ’n stadium moet jy nou maar publiseer of die ding finaal weggooi, dit kan jou nie ewig bly pla nie.”
Hy is nie een van daardie digters wat hulself van tyd tot tyd dramaties vernuwe soos Antjie Krog of NP Van Wyk Louw nie - digters van wie elke tweede, derde bundel iets nuuts of iets anders is.
Ewig
“Dit word dan ook beskou as ’n teken van grootsheid, die vermoë om jouself te vernuwe. Ek stem nie heeltemal daarmee saam nie. Ek dink Boerneef is ’n baie goeie, grootse digter wat ook die Hertzogprys gewen het, maar homself nooit vernuwe het nie. Hy het al die jare dieselfde soort gedig bly skryf. Dis twee soorte digters, een is nie noodwendig beter as die ander nie.”
Oor selfkritiek maan hy iewers moet jy ophou en die sprong waag, “jy kan nie vir ewig aanhou nie”.
“Gelukkig is daar wanneer jy die manuskrip stuur, ’n kundige leser. In my geval was dit by die laaste twee digbundels Johann de Lange en hy is ’n baie goeie leser. Hy kan vir jou presies sê waar ’n swak punt is of dit beter gestel kan word.”
Oor die saadjies plant vir ’n liefde vir Afrikaans is sy raad dat ouers vir hul kinders van kleins af moet voorlees.
“Die groot aandagafleier is natuurlik TV en die internet.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie