Vryheid om te vra
Vryheid om te vra

Vryheid om te vra

Dani Booysen
Vandag, 25 jaar gelede, het Afrika-joernaliste in die Namibiese hoofstad die Windhoek-verklaring opgestel om die belang van mediavryheid by die hele vasteland en internasionale gemeenskap tuis te bring.
Danksy hierdie beraad word 3 Mei sedert 1994 as Wêreld Persvryheiddag gedenk.
Die afgelope kwarteeu is positiewe veranderinge in baie Afrika-­state gesien. Maar sensuur, dwang, vervolging en vergelding duur voort in talle lande.
In Namibië moet nie net die uiters diverse media nie, maar ook die regering, burgerlike samelewing en elke inwoner trots wees op die land se voortgesette status as die vryste medialand in Afrika. Nie dat die Namibiese media perfek is, of alles in die kleur en geur van maanskyn en rose gehul is nie.
Slegs vanjaar het noodberigte oor dreigemente vir mediavryheid onder meer uit lande soos Somalië, Djiboeti, Nigerië, Uganda, Guinee, die DRK, Burundi, Kameroen en Tanzanië gekom. Glad nie altyd so ver van die huis af nie.
Mediavryheid is noodsaaklik. Nie net vir demokrasie nie, maar ontwikkeling.
Die reg en plig om sonder huiwering na die waarheid te delf, onderskraag goeie bestuur en verantwoording.
Die vryheid om oor alles te vra, het die Namibiese media. Maar eerlike, presiese en tydige antwoorde is nie altyd die publiek beskore nie. Die feit dat wet­gewing wat toegang tot inligting waarborg wanneer dit in openbare belang is steeds nie die lig gesien het nie, bly ’n bron van kommer. En enkele heethoofde se voortgesette aandrang op staatsregulering van die media moet beveg word.

So sê ander
2 Mei 2016

Sterk hand in die tesourie hou markte rustig

Dit is goeie nuus vir Suid-Afrika dat Lungisa Fuzile se kontrak as direkteur-generaal van die na­sio­na­le tesourie vir nog twee jaar verleng is. Dit getuig in wese daarvan dat Pravin Gordhan, minister van finansies, sy greep op die regering se geldsake terugkry.
Hoewel dit nie noodwendig gewigtig genoeg is om Suid-Afrika van ’n afgradering na rommelstatus te weerhou nie, is die nuus ’n rooksein van stabiele beleid en kontinuïteit, wat altyd kalmte na die markte bring. Nog beter nuus sou wees as die kontrak eerder met vier of vyf jaar verleng sou word.
Hopelik bring die verlenging van Fuzile se kontrak ook die onverkwiklike spanning tussen Gordhan en Tom Moyane by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens tot ’n punt. Die tesourie en Jan Taks is twee instellings wat glad moet kan saamwerk as Suid-Afrika wil slaag. ’n Professionele inkomstediens het nie kaderontplooiing en politieke speletjies nodig nie.
• DIE BURGER (NETWERK24)

Kommentaar

Republikein 2025-06-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer