Vry op borgtog, tot sy vonnis
Vry op borgtog, tot sy vonnis

Vry op borgtog, tot sy vonnis

Morné Mouton se vonnisoplegging is tot Woensdag 3 Februarie uitgestel.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Morné Mouton, wat verlede week skuldig bevind is aan strafbare manslag, se vonnisoplegging is in die Windhoekse streekhof na volgende week Woensdag uitgestel. Hy is tot dan op borgtog van N$5 000 vrygelaat.

Mouton het in 2015 die dood van drie mense veroorsaak, van wie een 'n beampte in die stadspolisie was. Sy voertuig het die kant van 'n polisiemotor getref wat in die pad van aankomende verkeer geparkeer was. Drie mense is getref wat almal gesterf het.

Hoewel hy ook aangekla was van dronkbestuur en nalatige en roekelose bestuur, is hy slegs aan strafbare manslag skuldig bevind. Ná sy skuldigbevinding Vrydag, is sy borgtog onttrek en is hy onmiddellik in hegtenis geneem.

Hy was in aanhouding totdat hy Woensdag voor landdros Leopold Hangalo verskyn het. Hangalo het aangekondig dat sy vonnisoplegging uitgestel sal word en Mouton se verteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, het Hangalo gevra om Mouton tot dan op borgtog van N$5 000 vry te laat. Dié versoek is toegestaan.

“Die staat het nie daarin geslaag om die hof te oortuig dat Mouton in aanhouding moet bly nie,” het Hangalo gesê.

Volgens Mouton het hy destyds uitgeswaai vir 'n voetganger wat veroorsaak het dat hy die polisievoertuig getref het.

Namandje het aangevoer die hof Mouton moet genadig wees, wat 20 jaar oud was ten tyde van die voorval. Hy het voorgestel dat die landdros Mouton 'n boete van N$15 000 oplê of tot 12 maande tronkstraf vonnis met 'n bykomende vyf jaar tronkstraf opgeskort ná twee jaar.

Die staatsaanklaer, mnr. Filemon Nyau, het voorgestel dat Mouton tot vyf jaar tronkstraf gevonnis moet word, omdat drie lewens as gevolg van sy optrede geëis is.



SKULDIG

Landdros Venessa Stanley het Mouton laas Vrydag skuldig bevind en hy is in hegtenis geneem.

“Mouton het nie sy aandag op die pad gehou nie. Toe hy die ­polisievoertuig se ligte sien, moes hy besef het daar is gevaar en hy moes sy spoed verminder het.”

Volgens haar het sy hom nie skuldig bevind aan dronkbestuur óf aan roekelose en nalatige bestuur nie, omdat dié klagte identies aan die klag van strafbare manslag is.

Sy het die saak na die streekhof verwys omdat die landdroshof nie die jurisdiksie het om 'n vonnis van meer as vyf jaar op 'n klag van strafbare manslag op te lê nie.

Mouton sal op 3 Februarie weer in die hof verskyn vir sy vonnisoplegging.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer