Vroulike vegtertjie bied vooruitsig

Boks
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Mirjam Nghilongwa is die trekpleister vir die hoofgeveg van MTC Salute Boksakademie se amateurtoernooi môre by die After School-sentrum in Grysblok, Katutura.

Die 23-jarige Nghilongwa sal in ’n vertoongeveg van drie rondes teen Peya Ngesheya van Intelligent-boksklub die Ohangwenastreek opgeweeg word. Moontlike ekstra rondes teen nog ’n opponent het deur die mat geval toe dié bokser van die Nampol-klub onttrek het.

“Mirjam is reeds Namibië se nommer een in haar gewigsklas (ligvlieggewig, 49 kg). Selfs as sy met een of twee gewigsklasse sou opskuif, sal sy steeds die beste wees,” sê Samuel Kwedhi, die Salute-klub se hoofafrigter vir amateurboksers.

“Ons het al die internasionale opposisie in haar gewigsklas deurgekyk. Mirjam het beslis potensiaal om vir die land medaljes te gaan wen. Al wat haar terughou, is die gebrek aan borgskappe.”

’n Borgskap van klerasie vir haar gevegte is gister deur ene mnr. Ananias Iyambo van #BeUnlimited oorhandig, wat beïndruk was nadat hy van Nghilongwa se vorige gevegte gesien het.

Kwedhi sê van die spesifieke behoeftes waarmee borge vir Nghilongwa ’n klip uit die pad kan rol, is boksskoene en die spesiale sportdrag wat vroueboksers se borskas beskerm.

KOELKOP
Die skraal geboude 20-jarige Nghilongwa was in April 2018 ’n uitblinker van Salute en 12 Rounds-akademie se toernooi in Pionierspark, toe sy as ’n vlieggewig omtrent drie gewigsklasse ligter as die MMA-vegter Iris Rodrigues ingeweeg het (50 kg teen 58 kg).

Met koelkop selfbeheersing en oordeelkundige verdediging het Nghilongwa egter die vroeë aanslag afgeweer en het halfpad deur die tweede ronde besef dat Rodrigues se asem begin opraak. Sy het haar kans aangegryp om met goed geplaaste houe die oorhand te kry totdat die skeidsregter die geveg in haar guns stopgesit het.

Miriam se twee jonger broers Immanuel en Andreas was destyds beide in voorgevegte van hul eie betrokke. Immanuel (nou 20) is glo bestem om volgende maand sy beroepsdebuut te maak.

• Môre se program by die After School Centre begin om 10:00, met die hoofgeveg wat nie voor 18:00 verwag word nie.

FOTO’s Andrew Poolman
Mirjam Nghilongwa in aksie tydens haar tegniese uitklopsege teen Iris Rodrigues in April 2018.

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer