Vrouespan wil op sege voortbou

Die Namibiërs bly hoopvol om tot die halfeindronde deur te dring.
Andrew Poolman
Tielman van Lill – Namibië se MTC senior vroueveldhokkiespan het gisteroggend sy veldtog by die Afrika-Nasiesbeker (Afcon) in Accra, Ghana, op 'n hoë noot afgeskop deur Uganda met 3-0 te klop.

In die toernooi se openingswed­stryd, met die afskoptyd vroegoggend sewe-uur in Accra, het doele deur Anthea Coetzee, Sascha Brinkmann en Taramarie Myburgh stelselmatig die senuweeagtigheid verdryf.

Ná die eerste twee kwarte was die telling (rustyd) nog op 0-0, maar binne die eerste sekondes van die derde kwart het Coetzee vir Susan Ayomirowth, doelwagter van Ghana, geklop om die telling 1-0 te maak.

Skaars twee minute later het Brinkmann opnuut die Namibiërs van vreugde laat dans (2-0). Myburgh se doel in die 56ste minuut was die laaste spyker in Uganda se doodkis.

Brinkmann en Coetzee het Namibië in hul eerste senior internasionale wedstryd verteenwoordig.

Coetzee het agterna gesê: “Dit was ongelooflik om in my eerste wedstryd vir Namibië en openingswedstryd van die toernooi 'n doel aan te teken.”

Brinkmann se reaksie: “Dis 'n droom wat waar geword het. Dit was my persoonlike mikpunt om doele in Accra te kom aanteken en om dit reg te kry, is 'n onbeskryflike gevoel.

“Die wedstryd teen Suid-Afrika gaan taai wees, maar hopelik kan ons as span saamwerk en 'n sege bewerkstellig.”

Wiandri Ludwig, die kaptein, sê Uganda was vir hulle 'n onbekende faktor.

“Ons het nie geweet wat om van hulle te verwag nie. Hulle het met mag en mening aangeval en ek dink Uganda het in die eerste twee kwarte baie goed gevaar.

“Rustyd het ons 'n goeie spanpraatjie gehad en 'n paar wenke by Melissa gekry. In die derde kwart het ons beter saam gespeel. Ons sal beslis aan die spoed van ons spel, asook ons aanvalslyne vir ons botsing teen Suid-Afrika moet werk.

“Ek dink tog ons het baie uit dié wedstryd geleer. Ons akklimatiseer nog, want 'n mens sweet baie in die bedompige klimaat. In geheel was dit 'n goeie wedstryd vir ons,” het die kaptein gesê.

Melissa Gillies, Namibië se hoofafrigter, reken ook Uganda was 'n moeilike kalant.

“Uganda is 'n vurige span. Hulle het goed verdedig en het ons aangevat. Ek is baie trots op my spelers en dis 'n goeie begin vir ons. Maar Suid-Afrika gaan 'n perd van 'n ander kleur wees. Ons verwag 'n taai uitstappie teen die verdedigende kampioen,” het die hoofafrigter gesê.

Gelukkig kon die Namibiërs gister ook die Suid-Afrikaners se spel teen Zimbabwe dophou en 'n paar taktiese notas maak vir die ontmoeting vandag (17:00 Namibiese tyd). Die RSA-vroue het hul buurland met 3-0 verslaan.

Die semifinale vind Saterdag plaas. Die finaal word Sondag beslis, asook die ander uitspeelwedstryde vir eindposisies.

Slegs die kampioenspan sal vir die 2022 Wêreldbeker in Spanje kwalifiseer.

Namibië is in groep A saam met Uganda, Suid-Afrika en Zimbabwe. Groep B is Ghana, Kenia, Nigerië en Zambië.



MANS

Die Namibiese manspan, met Johann Weyhe as afrigter en Tarrant Butcher as kaptein, sou laat gisteraand hul aanslag teen Suid-Afrika begin.

Die uitslag was teen druktyd nie bekend nie, maar die verwagting was dat Suid-Afrika as die oorheersende krag op die vasteland nie veel sou sukkel nie.

Groep A bevat net drie spanne en dus sal vandag se kragmeting tussen Namibië en Kenia se mans (19:00 Namibiese tyd) bepaal wie tot die halfeindronde deurdring.

Kenia se mans- en vrouespanne het egter teen gister nog nie in Ghana aangekom nie, blykbaar vanweë 'n vertraging in hul regering se goedkeuring van betaling van die toerkoste.

Regstreekse beeldsending van die toernooi kan op https://watch.hockey/ gevolg word.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer