Vroue slyp vir uitdaging

Hokkie
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Namibië se senior nasionale vrouehokkiespan, voortaan geborg deur MTC, is druk besig om vir hul komende uitstappie te slyp waar hulle hul 2017 binnenshuise Afrikatitel teen die bestes van die vasteland moet verdedig.

Namibië het Suid-Afrika in 2017 in Swakopmund oorrompel om die gesogte kroon op te raap en so vir die 2018 wêreldkampioenskap in Berlyn, Duitsland, te kwalifiseer.

Net die 2020 Afrika-kampioenspanne (mans en vroue) sal die eer hê om hul land by die 2021 Wêreldbeker in België te verteenwoordig. Die kampioenskap skop op 3 Februarie in Liége af en eindig vyf dae later.

Weens Suid-Afrika se Covid-19-status moes die aanvanklike datum met drie maande aangeskuif word. Die Afcon-kampioenskap sou vanaf 12 tot 14 Junie in Durban, KwaZulu-Natal, plaasgevind het, maar is tot die einde van September 2020 uitgestel.

Indien dié kompetisie vanweë Covid-19 nie in Durban kan plaasvind nie, sal die Namibiese vroue en die Suid-Afrikaanse manspan as verdedigende kampioene en as topgerekende lande in Afrika outomaties vir die Wêreldkampioenskap in België kwalifiseer.

Erwin Handura, hoofafrigter van die MTC vrouespan, sê hulle het reeds laasjaar met voorbereidings vir die Afcon-kampioenskap begin, maar was in Maart gedwing om halt te roep.

“Ons vrouespan het verlede jaar in Oktober begin oefen, maar ons moes op 12 Maart weens die Covid-19-inperking stop. Die vroue het gedurende grendeltyd nie op hul louere gaan rus nie en hard tuis geoefen om hul fiksheidvlakke en vaardigheid op peil te hou.

“In Junie het ons amptelik met drie biokinetiese oefensessies per week afgeskop om die vroue se krag en kondisionering te verbeter. Vandeesmaand het ons aan tegniese aspekte aandag gegee en op individuele vaardigheid van die spelers gefokus.

“Sedert laas Sondag het ons teen manspanne begin speel om die vroue se spoed na die bal en hul besluitneming onder druk te verbeter. Ons sal aanhou om drie keer per week te oefen en sal elke Sondag teen manspanne kragte meet.

“Daar is tans 23 spelers in die oefengroep, wat op 22 Augustus tot 18 gesnoei sal word. Agt dae later sal ek die finale span kies en aankondig wat Namibië by die 2020 Afcon-kampioenskap in Durban sal verteenwoordig.

“Uit die 12 vroue wat Namibië in 2018 by die wêreldkampioenskap verteenwoordig het, is agt nog aktief. Dus is daar hope ondervinding beskikbaar wees om leiding op die baan te gee en die plan is dat ons goed wil vaar om Namibië se naam hoog te hou,” het Handura verduidelik.

Kommentaar

Republikein 2026-07-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer