Vroue help Rehoboth se behoeftiges

Sanet de Waal
Tanja Bause – Meer as 100 mense wat tans op Rehoboth se vullishope woon, het onlangs 'n warm maaltyd, sap en vrugte ontvang.

Me. Elodine Cloete van Rehoboth Mommies in Need (RMIN) het saam met twee vriendinne, mee. Charmey Schwartz en Edwina Croughan, die asgate besoek.

“Daar woon sowat 120 mense van verskillende ouderdomme op die asgate. My organisasie het onlangs kos van die Community Warriors Namibia ontvang en ons het onmiddellik begin om die kos te kook en aan die minderbevoorregte mense uit te deel. Vir die mense op die asgate het ons 'n lekker ­hoenderkerrie gemaak. Charmey en Edwina het die kos in die Primêre Skool Acacia se kombuis gekook.”

RMIN beplan om die komende naweek weer na die asgate terug te keer om nog 'n maaltyd, asook komberse en klere uit te deel.

Cloete het aan die einde van 2020 die organisasie gestig nadat 'n ma vir haar 'n Facebook-boodskap gestuur het om vir melk te vra.

“Dit was baie vreemd, omdat ons glad nie vriende was of mekaar ken nie. Sy het vir melk gevra en ek het besluit ek kan help en het dit gedoen.”

Al hoe meer versoeke van ma's vir veral melk en doeke het ingekom en Cloete het gevolglik 'n Facebook-blad (Rehoboth Mommies in Need) begin, omdat sy nie meer al die behoeftige vroue uit haar eie sak kon help nie.

Intussen help RMIN nie net ma's en hul babas nie, maar ook ander behoeftiges op Rehoboth.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer