Vroue-Eagles se droom aan skerwe
Vroue-Eagles se droom aan skerwe

Vroue-Eagles se droom aan skerwe

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Namibië was gister in Gaborone, Botswana, in die T20-finaal in ’n hewige stryd teen die Lady Chevrons van Zimbabwe gewikkel.

Die Capricorn vroue-Eagles moes gister teen net meer as 6.65 lopies per boulbeurt kolf om Zimbabwe se 133/4 in 20 verby te steek.

Zimbabwe het die lootjie gewen en besluit om eerste te kolf. Die Eagles was vanuit die staanspoor onderdruk van die openingskolwers Modester Mupachikwa op nommer een en Chiedza Dhururu (paaltjiewagter) op twee.

Bykans 12 boulbeurte het verstryk alvorens Namibië enigsins ’n slag kon slaan toe Mupachikwa (34 lopies, 28 balle, 6x4) deur Kayleen Green been voor paaltjie (bvp) vir 1/76 betrap was.

Die kaptein, Mary-Anne Musonda op drie, was met Green se volgende aflewering vir ’n nulletjie (2/76) geboul wat die skaal effens in die Eagles se guns geswaai het.

Dhururu (44, 56 b, 5x4, bvp Merczerly Gorases) was Namibië se derde slagoffer in die 15de boulbeurt (3/96). Pellagia Mujaji op vier het net 12 balle deurstaan voor Irene van Zyl haar vir 12 (10 b, 2x4) met ’n bvp-beslissing (4/128) laat stap het.

Josephine Nkomo op vyf (22*, 21 b, 3x4) en Precious Marange (3*, 4 b) het enduit die Eagles se boulaanval getrotseer om hul telling op 133/4 af te sluit.

Green met 2/22 in 4 boulbeurte teen 5.5 lopies per boulbeurt was die Eagles se voorste bouler, terwyl Victoria Hamunyela met 0/11 in 4 (1 leeg) teen 2.75 die suinigste was. Van Zyl (1/34 in 4) en Gorarses (1/16 in 1) se bydrae kan nie gering geskat word nie.

Die 16 wydlopers wat afgestuur was ontsier egter die Namibiërs se boulsyfers en voeg saam met twee bylopies 18 ekstras by Zimbabwe se totaal.

Vir die Namibiese vroue het ’n steil opdraande met die kolf gewag. Die Eagles het wel al vier hul groepwedstryde en semifinaal gewen, maar kon nooit werklik met die kolf oortuig nie.

In die semifinaal het hulle gesukkel om 90/8 in 20 boulbeurte te bemeester. Teen Sierra Leone het die Eagles (144/6 in 20 boulbeurte) die beste gevaar. Teen Kameroen (32/2 in 3.5) was daar nie veel kolfkanse nie. Nogtans is die openingkolwers Adri van der Merwe (1 lopie) en Sune Wittmann (0) goedkoop deur Kameroen uitgehaal. Teen Nigerië vaar hulle beduidend goed (125/7 in 20), terwyl Uganda hulle gerieflik tot 105/4 in 20 beperk het.

Van der Mewe op een en Wittmann op twee was behoorlik deur die Zimbabwiese boulers vasgepen. Hulle kon drupsgewys net 19 lopies in die eerste vyf boulbeurte teen 3.65 aanteken voor Wittmann (4, 15) terug kleedkamer toe is.

Teen die einde van die tiende boulbeurte moes die Eagles teen 8 lopies kolf om die wentotaal van 134 te bereik. Met 15 boulbeurte verstreke het die Eagles net vier paaltjies (80/4) verloor, maar die lopie tempo van 5.17 was hopeloos te stadig om die wentotaal in vyf beurte teen meer as tien per beurt te bereik en is uiteindelik tot 120/9 in 20 gestuit.

Van der Merwe (29, 34 b, 2x4), Green (21, 19 b, 3x4), Mwatile (26, 24 b, 3x4) en Jurriene Diergaardt (18*, 12 b, 3x4) was die Eagles se beste kolwers.

Val van paaltjies: 1/19 (Wittmann, 5.2 boulbeurte), 2/31 (Yasmeen Khan, 7.6), 3/47 (Van der Merwe, 11.3), 4-80 (Kayleen Green, 14.6), 5/102 (Mwatile, 17.5), 6/102 (Edelle van Zyl, 17.6), 7/110 (Irene van Zyl, 18.4), 8/110 (Sylvia Shihepo, 18.5), 9/114 (Gorases, 19.3).

Josephine Nkomo (2/22 in 4), Precious Marange (2/20 in 4), Nomvelo Sibanda (2/7 in 2), Loryn Phiri (1/25 in 4), Esther Mbofana (1/21 in 3) en Loreen Tshuma (1/22 in 3) het vir Zimbabwe paaltjies gevat. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer