Vrou stoei om huis uit 'toordokter' te kry

Hoërhof moet sê

01 October 2019 | Howe
Denver Kisting



Me. Elisabeth Neis, 'n oudverpleegster, sê 'n vermeende toordokter, mnr. Kenneth Kasuma, het in 2014 haar geestestoestand uitgebuit om haar huis af te rokkel.

Ingevolge 'n mondelinge ooreenkoms in Julie daardie jaar het sy haar drieslaapkamerhuis in Maroela in Katutura in me. Josephina Amutse, Kasuma se liefmeisie, se naam oorgedra.

Die huis se waarde was glo ongeveer N$800 000.

Amutse sou kragtens die ooreenkoms die huis aan Kasuma oordra, lui hofstukke.

Volgens Neis sou Kasuma haar N$200 000 betaal en vir haar 'n huis van 'n soortgelyke grootte en/of soortgelyke waarde aanskaf.

Sy het die paartjie deur 'n oorlede suster van haar, me. Frieda Guriras, ontmoet wat glo gesê het Kasuma is 'n toordokter wat haar uit haar finansiële verknorsing kan help.

Haar geldelike probleme het ontstaan nadat sy N$100 000 geleen het aan 'n pasiënt wat onder haar sorg by die Katutura-staatshospitaal was.

Neis sê die pasiënt het ondanks pogings om die geld by hom te kry nooit die lening terugbetaal nie.

Die gat in haar spaargeld en rusies met haar dogter het erge stres te weeg gebring, sê Neis.

Kasuma het glo vir Neis gesê die rede hoekom sy soveel onheil beleef, is omdat daar bose geeste in haar huis was.

Niemand behalwe hy kon die vermeende bose geeste verduur en in die huis woon nie, het Kasuma glo beweer.

Trouens, dié geeste was so magtig dat hy hulp van drie Malawiese toordokterkollegas moes ontbied om die magte te probeer uitwoed.

Hy het haar haar huis laat ontruim, elders vir haar 'n huis gehuur en vir die water en krag by dié plek betaal.

Later het Kasuma glo gesê sy moet haar huis aan hom verkoop. Dit is hoe die mondelinge ooreenkoms tot stand gekom het.

'n Geskrewe verkoopstransaksie tussen die partye wat daarna onderteken is, maak net van die N$200 000 melding.

Neis beweer Kasuma en Amutse het voorgegee dié dokument “is net onderteken vir doeleindes van die oordrag van die eiendom”.

Kasuma het glo hand en mond belowe hy sou steeds vir haar 'n ander huis koop.

Hy het tussen Junie 2014 en Desember van daardie jaar N$185 000 aan haar betaal, sê sy.

Neis sê Kasuma het in 'n stadium opgehou om die huurhuis of vir dienste te betaal.

Sy moes sedertdien vir haarself sorg.

Volgens die stukke sê Kasuma hy het die huis by Neis vir N$200 000 gekoop.

Nadat hy glo N$190 000 van die koopsom betaal het, het sy geweier om die oorblywende N$10 000 te ontvang en haar eerder tot die owerhede gewend.

Neis het aanvanklik 'n klag van diefstal by die polisie ingedien, maar is toe aangeraai om 'n siviele eis teen die partye te bring in 'n poging om haar huis terug te kry.

Haar prokureur, me. Rachel Mondo, sê die mondelinge en die skriftelike ooreenkoms is ongeldig.

Hulle gaan vandeesweek vra dat die hof gelas die huis moet daarom weer in haar naam oorgedra word omdat sy glo weens Kasuma en Amutse se onbehoorlike en onwettige invloed en misbruik van haar geestestoestand die ooreenkomste gesluit het.

Neis sê sy sal in ruil daarvoor die geld wat aan haar betaal is, aan die partye terugbetaal.

- [email protected]

Soortgelyk

 

D-dag vir Air Nam se lisensie

9 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer - Air Namibia het tot middernag tyd om redes aan te voer waarom die Vervoerkommissie van Namibië nie sy statutêre plig moet uitvoer...

Kwota-stank in visserye onthul

9 ure gelede | Plaaslik

'n Internasionale skandaal het losgebars met die ­vry­stelling van meer as 30 000 WikiLeaks-­dokumente wat wys hoe 'n maatskappy in Ysland, ­SAMHERJI, oor 'n tydperk...

VERKIESINGS 2019: PRESIDENSIËLE KANDIDATE

9 ure gelede | Politiek

Dr. Hage GeingobSWAPO Dr. Hage Geingob was Namibië se eerste premier en het tot in 2002 in die amp gedien.Hy was die voorsitter van Namibië...

Weer vir 14 November 2019

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm tot bloedig warm met enkele donderbuie in die Zambezistreek op plekke.KUS: Gedeeltelik bewolk en koel tot warm met...

Vertroue in presidensie tuimel

9 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Sowat 81% van Namibiërs wat aan ’n meningspeiling deelgeneem het, meen “die land is in die verkeerde rigting op pad”.Hoewel 60% van...

Polisie begelei tandarts glo uit teater

9 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die onafhanklike presidensiële kandidaat, die tandarts dr. Panduleni Itula, moes Dinsdagaand glo deur die polisie uit die Nasionale Teater van Namibië (NTN)...

Namibiër vermoor glo vrou in Maleisië

9 ure gelede | Misdaad

’n Namibiër is in die buiteland agter tralies nadat hy sy meisie na bewering verwurg het en haar hande afgekap het. Die 26-jarige man het...

VERKIESINGS 2019: Geslagsgeweld en menseregte

9 ure gelede | Politiek

Die reeks neem politieke partye se manifeste oor sleutelkwessies in oënskou.ALL PEOPLE’S PARTY (APP)• Beëindig die bose kringloop van geweld teen vroue en kinders, die...

Hope wildprodukte op Divundu gekonfiskeer

9 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - ’n Namibiese man is verlede week op Divundu glo in die besit van ’n groot verskeidenheid beheerde wildprodukte in hegtenis geneem. Mnr....