Vrou stoei om huis uit 'toordokter' te kry
'n Oudverpleegster sê sy is onregmatig beïnvloed om van haar eiendom ontslae te word.
Denver Kisting
Me. Elisabeth Neis, 'n oudverpleegster, sê 'n vermeende toordokter, mnr. Kenneth Kasuma, het in 2014 haar geestestoestand uitgebuit om haar huis af te rokkel.
Ingevolge 'n mondelinge ooreenkoms in Julie daardie jaar het sy haar drieslaapkamerhuis in Maroela in Katutura in me. Josephina Amutse, Kasuma se liefmeisie, se naam oorgedra.
Die huis se waarde was glo ongeveer N$800 000.
Amutse sou kragtens die ooreenkoms die huis aan Kasuma oordra, lui hofstukke.
Volgens Neis sou Kasuma haar N$200 000 betaal en vir haar 'n huis van 'n soortgelyke grootte en/of soortgelyke waarde aanskaf.
Sy het die paartjie deur 'n oorlede suster van haar, me. Frieda Guriras, ontmoet wat glo gesê het Kasuma is 'n toordokter wat haar uit haar finansiële verknorsing kan help.
Haar geldelike probleme het ontstaan nadat sy N$100 000 geleen het aan 'n pasiënt wat onder haar sorg by die Katutura-staatshospitaal was.
Neis sê die pasiënt het ondanks pogings om die geld by hom te kry nooit die lening terugbetaal nie.
Die gat in haar spaargeld en rusies met haar dogter het erge stres te weeg gebring, sê Neis.
Kasuma het glo vir Neis gesê die rede hoekom sy soveel onheil beleef, is omdat daar bose geeste in haar huis was.
Niemand behalwe hy kon die vermeende bose geeste verduur en in die huis woon nie, het Kasuma glo beweer.
Trouens, dié geeste was so magtig dat hy hulp van drie Malawiese toordokterkollegas moes ontbied om die magte te probeer uitwoed.
Hy het haar haar huis laat ontruim, elders vir haar 'n huis gehuur en vir die water en krag by dié plek betaal.
Later het Kasuma glo gesê sy moet haar huis aan hom verkoop. Dit is hoe die mondelinge ooreenkoms tot stand gekom het.
'n Geskrewe verkoopstransaksie tussen die partye wat daarna onderteken is, maak net van die N$200 000 melding.
Neis beweer Kasuma en Amutse het voorgegee dié dokument “is net onderteken vir doeleindes van die oordrag van die eiendom”.
Kasuma het glo hand en mond belowe hy sou steeds vir haar 'n ander huis koop.
Hy het tussen Junie 2014 en Desember van daardie jaar N$185 000 aan haar betaal, sê sy.
Neis sê Kasuma het in 'n stadium opgehou om die huurhuis of vir dienste te betaal.
Sy moes sedertdien vir haarself sorg.
Volgens die stukke sê Kasuma hy het die huis by Neis vir N$200 000 gekoop.
Nadat hy glo N$190 000 van die koopsom betaal het, het sy geweier om die oorblywende N$10 000 te ontvang en haar eerder tot die owerhede gewend.
Neis het aanvanklik 'n klag van diefstal by die polisie ingedien, maar is toe aangeraai om 'n siviele eis teen die partye te bring in 'n poging om haar huis terug te kry.
Haar prokureur, me. Rachel Mondo, sê die mondelinge en die skriftelike ooreenkoms is ongeldig.
Hulle gaan vandeesweek vra dat die hof gelas die huis moet daarom weer in haar naam oorgedra word omdat sy glo weens Kasuma en Amutse se onbehoorlike en onwettige invloed en misbruik van haar geestestoestand die ooreenkomste gesluit het.
Neis sê sy sal in ruil daarvoor die geld wat aan haar betaal is, aan die partye terugbetaal.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie