• Tuisblad
  • Sport
  • Vries, Urikhob, Stephanus en Benjamin versterk Warriors geledere

Vries, Urikhob, Stephanus en Benjamin versterk Warriors geledere

Sokker
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Ricardo Mannetti, hoofafrigter van die Tafel Lager Brave Warriors, het gister vir ’n verrassing gesorg met die aankondiging van die oefengroep van 25 spelers wat binne die volgende twee weke teen Zambië op die veld moet stap.

Behalwe vir die terugkeer van Virgil Vries, Sadny Urikhob en kwiksilwer Willy Stephanus na die Warriors, is die 40-jarige Colin Benjamin, voormalige Brave Warrior-kaptein en -verdediger, as hulpafrigter betrek.

Mannetti kon nie Benjamin se rol presies verduidelik nie, maar het gesê die oudstuurman het geweldig baie ervaring.

“Colin is ‘n man wat in Duitsland gepeel het en ook daar afgerig het. Hy het sokker op die hoogste vlak gespeel en kan vir ons baie beteken. Colin ken die toestande en omstandighede in Afrika. Hy is die regte man wat aan al die verwagtinge voldoen om ons tegniese span te versterk,” het die breier verduidelik.

Die lenige Benjamin het in 1996 sy buiging by Civics in Windhoek gemaak en Namibië van 1999 tot 2012 in 32 wedstryde verteenwoordig en twee doele behaal.

Sy professionele loopbaan as geldspeler het in 1999 by TuS Germania Schnelsen (nege wedstryde, drie doele) begin, waarna hy na FC Elmshorn 1920 in 2000 geskuif het om vier doele in 28 kragmetings te behaal.

Van 2001 tot 2011 was Hamburger SV sy tuiste (146 wedstryde, 13 doele) waarna hy na 1860 München verhuis en nog 18 wedstryde gespeel het.

Sy 10 jaar by Hamburg wat in die Duitse Bundesliga gespeel het, plaas Benjamin in ’n kategorie wat geen ander Namibiër nog kon bereik nie.

Voor Benjamin se terugkeer na Namibië om sy droom na te jaag, het hy as hulpafrigter by 1860 München diens gedoen voor hy vroeër in 2016 na sy geboorteland teruggekeer het om sy kennis en vernuf in die jeug terug te ploeg.

Volgens Benjamin het hy Mannetti se aanbod aanvaar en glo hy hy kan ’n positiewe bydrae tot die Warriors lewer.

“Namibië het my geroep en as my land roep, is daar nie ’n manier dat ek gaan terugstaan nie. Wat Mannetti en sy span die afgelope paar jaar vermag het ,is niks minder as ’n wonderwerk nie en iets om werklik op trots te wees,” het Benjamin gesê.

Benjamin sal saam met Ronnie Kanalelo (eerste hulpafrigter) ook saam Harry Januarie werk, wat die doelafrigter is.

Mannetti sê die terugkeer van Vries, Urikhob en Stephanus is weer deel van sy planne en vorm deel van die groep wat vroeër vanjaar aan die Afrika-nasiesbekerkampioenskap deelgeneem het. Die Namibiese Premierliga is sedert Mei dormant en Mannetti sê hy en die tegniese span sal vinnig ’n balans moet vind.

Zambië se voorste liga is sedert Februarie in volle swang en die Namibiërs sal hul litte moet roer as hulle enige sukses op 9 September in Windhoek by die Sam Nujoma-stadion in Katutura teen Zambië wil behaal.

Omrede meeste van die spelers vir die afgelope drie maande nie enige kompeterende sokker gespeel het nie, is die meeste se fiksheid onder verdenking.

Van die spelers is wel fiks in die sin dat hulle gereeld oefen en verbind is tot die Brave Warriors, maar wedstrydfiksheid en gereedheid is iets wat nie onder elke bos uitgegrawe word nie. Dus sal elke speler diep moet delf teen Zambië om die maksimum punte in sy eerste kwalifiserende tuiswedstryd vir die Afrca Cup of Nations (Afcon) te oes.

“Dit is nou te laat vir enige vriendskaplike wedstryde, dus sal ons nou op tegniese aspekte konsentreer. Ons het vanjaar al twee keer teen Zambië gespeel en beide kere daarin geslaag om gelykop te breek. Ons sal opnuut ons gebruiklike hoë tempo aanslag aanwend om hulle onder druk te plaas. Die afgelope vier jaar was ons resultate teen Zambië nie te sleg nie, maar ons moet dié botsing tuis wen,” het Mannetti verduidelik.

Namibië is saam met Guinee, Mosambiek en Zambië in Groep K.

Bykomende inligting – Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer