Vriendin vas vir Wasserfall-moord
Vriendin vas vir Wasserfall-moord

Vriendin vas vir Wasserfall-moord

’n Vrou wat glo die peetma van me. Shannon Wasserfall se seun is, is die hoofverdagte in haar verdwyning.
Leandrea Louw
Leandrea Louw op Walvisbaai - Me. Azaan Madisia (28) het Vrydag haar eerste hofverskyning in die Walvisbaai-landdroshof op klagte van moord en regsverydeling gemaak.

Sy is die hoofverdagte in die verdwyning van me. Shannon Wasserfall (22), wat op 10 April vanjaar uit Kuisebmond vermis geraak het.

Menslike oorskot, vermoedelik dié van Wasserfall, is vroeër verlede week ná ’n SMS-wenk gevind wat gelei het tot landswye optogte vir geregtigheid vir Shannon onder die #JusticeForShannon-veldtog.

Die oorskot is vanaf Walvisbaai na Windhoek vir forensiese toetse gestuur.

Madisia het sonder regsverteenwoordiging voor landdros Rhivermo Williams verskyn. Sy is borgtog geweier weens die ernstige aard van die klagte en dat dit nie in die publiek se belang sal wees nie.

Volgens die staatsaanklaer, me. Maggy Shinyagaya, bestaan die moontlikheid dat nog verdagtes in verband met Wasserfall se verdwyning in hegtenis geneem kan word.

Die saak is tot 7 Desember vir verdere ondersoek uitgestel.

’n Huilende Madisia het haar gesig bedek terwyl sy vir die polisie gewag het om haar terug na die aanhoudingselle in Narraville te vergesel.

Sy kan formeel vir borgtog aansoek doen sodra sy regsverteenwoordiging bekom het.

Intussen het inwoners in groot getalle op Swakopmund opgedaag om aan ’n protesveldtog deel te neem. Hulle het later die polisiekantoor bestorm en geregtigheid vir Wasserfall en talle ander vroue en kinders met dieselfde lot geëis.

Betogers het ook Saterdag deur Narraville op Walvisbaai na die Kuisebmond-polisiekantoor opgeruk.

Hulle wou ’n klagskrif aan die stasiebevelvoerder oorhandig, maar omdat die korrekte prosedure nie gevolg is nie – die polisie het drie dae kennisgewing nodig, het die stasiebevelvoerder nie die klagskrif in ontvangs geneem nie.

Die klagskrif lui dat geslagsgeweld diep in geslagsongelykheid gewortel is en steeds een van die grootste menseregteskendings van die samelewing is.

Betogings het ook in Kuisebmond by die Independence-winkel plaasgevind waar Wasserfall vir die laaste keer lewend gesien is.

Donderdagaand het ’n gebedsessie in protes ontaard. Die onderburgemeester van Walvisbaai, me. Penelope Martin-Louw, het gesê Namibië het ’n hoë koers van geslagsgeweld en dit is ’n groot bekommernis.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer