Vriende tot die bitter einde
Vriende tot die bitter einde

Vriende tot die bitter einde

[email protected]
Yolanda Nel
Yolanda Nel – Ek kyk die gewilde Friends-sepie se reünie. Daar word baie gelag en die trane vloei gereeld. Ek kan myself net indink hoe geheg jy aan iemand raak as julle vir ’n dekade so nou saamwerk. Dit word seker soos familie.

Ek het ook sulke vriende. Ons kuier nou wel nie elke dag in ‘n koffiekroeg nie en ons sit meestal meer as agt werksure ’n dag in – iets wat mens nie regtig by die karakters op die sepie werklik kon sien nie. Hulle werk ja; hoe anders bekostig jy. . . goed. Maar dit is beslis nie die fokus van die sepie nie.

Hoewel die storie al dekades gelede die finale buiging gemaak het, is dit nog steeds agtergrond lawaai in my huis. Friends het my wel iets baie waardevol geleer en dit is dat jy nie ’n reuse-vriendekring nodig het nie. ‘n Hand vol vreemdelinge kan familie word.

Ek en my oudste vriendin het mekaar in doeke ontmoet. Te dom om te weet ons sal amper 32 jaar later steeds deel van mekaar se lewens wees. Ons praat nie elke dag nie. As ek moet eerlik wees, praat ons twee keer ’n jaar en sien mekaar een keer ’n jaar vir ’n koffie. Dit is as ons gelukkig is. Ons vriendskap het nie elke dag ’n gesprek nodig nie, maar ek weet sy is daar as die paw-paw die dag die waaier tref.

My ander vriendin het ek in die kleuterskool ontmoet. Ons vier vanjaar 29 jaar van vriendskap. Ons praat elke dag en sien mekaar ten minste een keer ’n week. Ons het saam Thailand se strate rooi geverf en ons voete vodde geloop. Ons doen Friends dinge saam – gaan Boeremark toe, gaan eet ontbyt. Sy is lief vir my kinders. Ons is saam grootskool toe, saam hoërskool en universiteit toe.

Ons is soos dag en nag. Haar ma noem my ’n gatvlieg – kan net nie van my ontslae raak nie. Dalk is vriendskappe wat so oud soos die berge is die beste tipe. Ons groei in mekaar se geite en goeters in. Ons ontmoet nie iemand en wonder hoe ontwikkel mens ’n haat vir uie of ’n liefde vir brandrissies nie.

My ver-vriendin, is my sielsvriendin. Ons is Potchefstroom-maatjies. Ons sien mekaar amper nooit nie. Ons WhatsApp call mekaar somtyds as ons weer naby mekaar wil voel, maar ons tik heeldag en aldag boodskappe vir mekaar soos monstertjies. Ons twee het saam gestudeer en seker gemaak ons maak al twee klaar. Sy moet nog my kinders ontmoet, maar sy is klaar die beste tannie vir hulle.

Dan het ek my Jesus-vriendin. Sy leer my elke dag hoe ‘n mens saam met Jesus stap. Deur donker dae en dae vol vreugde. Daar is altyd ‘n silwer randjie om enige wolk. Sy is my enigste vriendin met kinders en by haar kan ek gaan afpak as ek nie meer weet hoe het ek dit met my kroos nie.

Vriende speel elkeen ‘n rol. Ek is dankbaar vir myne. Elke liewe een. Hulle is myne tot die bitter einde.

Kommentaar

Republikein 2025-11-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer