Vrees vir virus laat goudprys skerp toeneem
Vrees vir virus laat goudprys skerp toeneem

Vrees vir virus laat goudprys skerp toeneem

’n Mate van angstigheid heers oor finansiële wêreldmarkte soos wat die dodelike virus buite China versprei en ’n impak op maatskappye se verdienste het.
Die prys van goud is op sy hoogste vlak sedert 2013 namate beleggers na vaste bates stroom te midde van vrese oor die ekonomiese impak van die Covid-19-virus.

Verhandelingsplatforms van goud het die afgelope paar weke rekordgetal besoekers gesien wat desperaat op soek is na ’n stukkie goud.

’n Mate van angstigheid heers oor finansiële wêreldmarkte soos wat die dodelike virus buite China versprei en ’n impak op maatskappye se verdienste het.

Verskeie ondernemings, insluitend die lugdienste KLM/Air France en Quantas, sowel as tegnologiemaatskappye soos Apple het reeds gewaarsku dat Covid-19 ’n wesentlike impak op verdienste in die huidige kwartaal gaan hê.

Die prys van goud het reeds met 7% sedert die begin van die jaar geklim.

Dit skep die verwagting dat die Amerikaanse Federale Reserweraad ’n meer buigsame monetêre beleid in die tweede helfte van die jaar sal inneem deur die rentekoers te verlaag.

“Die vraag na goud word tans gedryf deur vrese vir die nuwe koronavirus,” sê Vivek Dhar, ’n ontleder by CBA.

“In die verlede het ’n toename in die vraag wel die goudprys net tydelik ’n hupstoot gegee.”

Die prys van goud het met tot 0,3% tot $1 624,73 per ons toegeneem, die hoogste vlak sedert Februarie 2013.

Goud is reeds 2,6% duurder as aan die begin van die week, die grootste styging sedert die eerste week in Januarie. In Suid-Afrika verhandel dit tans op R24 608,10 per fynons.

Silwer beleef ook ’n goeie lopie en behoort vandeesweek die grootste styging in prys te sien sedert Augustus 2019.

Die prys van platinum is ook hoër.

Palladium is 11% hoër nadat dit ’n nuwe hoogtepunt Woensdag bereik het teen $2 849,61 per ons. – Bloomberg/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer