Vraag na olie droog feitlik op

28 April 2020 | Afrika
Riana de Lange - Die lae olieprys wat vir Suid-Afrikaanse motoriste 'n verlaging in die brandstofprys in Mei kan beteken, kan ook vir die regering 'n kans bied om die brandstofheffing te verhoog en so sy fiskale stimuluspakket van R500 miljard teen Covid-19 te help finansier.

Só bespiegel Izak Odendaal van Old Mutual Wealth met die prys van Brent-ruolie op sowat US$22 per vat. 'n Maand gelede het dit nog teen US$27 per vat verhandel.

Die moontlike inkomste uit 'n hoër brandstofheffing sal egter afhang van hoeveel verbruikers kan ry en hoeveel brandstof hulle koop, sê hy.

Tito Mboweni, minister van finansies, sal na verwagting binnekort 'n nuwe begroting aankondig om te wys waar die geld vir die stimuluspakket vandaan sal kom en hoe dit bestee sal word.

Odendaal sê die lae olieprys is goeie nuus vir Suid-Afrika as 'n olie-invoerder omdat 'n laer brandstofprys laer inflasie beteken, wat die Reserwebank dus nóg ruimte gee om rentekoerse te verlaag.

Oliepryse is sedert begin vanjaar onder druk en was die laaste twee weke baie wisselvallig weens onsekerheid oor die uitwerking van die Covid-19-pandemie op ekonomieë wêreldwyd.

Ekonomieë wat feitlik tot stilstand kom, het die vraag na olie feitlik laat opdroog en selfs voor Covid-19 was daar 'n ooraanbod wat oliepryse onderdruk het, sê Odendaal.

SLUIPMOORD

Odendaal sê ná die sluipmoord op die Iranse militêre leier Kasem Soleimani in Januarie het die prys van olie ­kortstondig opgeskiet soos wat in oorlogsituasies gebeur, maar toe weer ­teruggeval weens 'n strukturele ­ooraanbod van olie in die wêreld.

Olie het dié week vir hoofopskrifte gesorg toe die kontrakpryse van West Texas Intermediate (WTI)-ruolie vir ­lewering in Mei tot onder nul gedaal het.

WTI is die verwysingsprys vir Amerikaanse brandstof. Suid-Afrika gebruik die prys van Brent-ruolie as verwysing, sê Bishop.

Suid-Afrika voer olie in van Saoedi-Arabië, Nigerië, Angola, Iran en ander lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Bloomberg berig die vraag na brandstof in Amerika het met vier miljoen vate per dag afgeneem weens inperkingsmaatreëls.

Odendaal verduidelik kragtens WTI-termynkontrakte moet die houer van die kontrak die olie fisiek ontvang wanneer die kontrak gesluit word. Die olie word in Cush­ing in die Amerikaanse deelstaat Oklahoma gehou wat 'n groot handelsnode vir ruolie is.

Die houers van die Mei-kontrakte wou die olie egter nie op 21 April ontvang nie, want daar is tans geen vraag nie, bergingsplek raak min en is dus ook duur. Kontrakhouers het dus betaal om nie die olie te ontvang nie.

Bloomberg berig olietenkskepe wat genoeg ruolie kan dra om in 20% van die wêreldverbruik te voorsien, lê voor anker aan die kus van Kalifornië omdat hulle weens die swak vraag na olie nêrens het om heen te gaan nie.

Meer as 30 skepe is nou basies dry­wende bergingsplek vir die olie. Dié meer as 20 miljoen vate ruolie is die grootste volume ruolie ooit wat op een gegewe tydstip aan die Amerikaanse weskus in olietenkers dryf, sê Kpler SAS, wat die verkeer van olietenkskepe monitor.

Van die tenkskepe lê al sewe dae in die omgewing.

Volgens Odendaal is die prys op die WTI-kontrakte vir later in die jaar steeds positief.

Intussen beplan olieprodusente wêreldwyd om produksie van 1 Mei in te kort om die prysinsinking te keer.

– Netwerk24/Rapport

Soortgelyk

 

Nog leerlinge, gevangenes toets positief vir Covid-19

3 ure gelede | Gesondheid

Uit die 13 nuwe gevalle van Covid-19 is vyf leerlinge van skole in die hoofstad en wel twee van die Montessori-kindertuin, een elk van die...

Woede kook oor by Ngoma

19 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig – Regeringsafgevaardigdes het laat Saterdagmiddag hul hande vol gehad om gemoedere by die Ngoma-grenspos te kalmeer toe ’n skare woedende inwoners uit die...

Totsiens, Shannon

19 ure gelede | Mense

Leandrea Louw op Walvisbaai – Roubeklaers het Saterdag in groot getalle opgedaag om finaal van me. Shannon Wasserfall (21) op Walvisbaai afskeid te neem.Sy is...

Nuwe ruimte vir naslaan, leer en lees

19 ure gelede | Geskiedenis

'n Splinternuwe mediategnologie-biblioteek is nou oop vir die publiek by die hoofkantoor van Namibia Media Holdings in Windhoek.Die herontwerpte argief is Vrydag amptelik in gebruik...

Vermoedelike reeksverkragter slaan weer toe

19 ure gelede | Misdaad

Kuskantoor – Die polisie in die Erongostreek ondersoek 'n voorval waar ’n aanvaller by ’n vrou (28) se huis in Walvisbaai ingebreek het, haar met...

Namibië se eerste Supra-vrou gekroon

19 ure gelede | Mense

Ná maande van intense mededinging is die 23-jarige Chanique Rabe Saterdagaand as die eerste Mej. Supranational Namibië bekroon. Saam met dié gesogte titel stap sy...

Antigeen-toetse vir reisigers na SA beskikbaar

19 ure gelede | Gesondheid

Antigeen-toetse om die coronavirus op te spoor, is volgens die Suid-Afrikaanse regering se inligtingsdiens (GCIS) by alle grensposte na die land beskikbaar.Dié toetse, wat van...

Regeringsbestuur: 'Prentjie lyk stroef'

19 ure gelede | Regering

Denver Kisting 'n Herhaling van die Fishrot-skandaal, die beweerde grootskaalse kaping van Namibiese viskwotas wat die afgelope jaar opspraak wek en twee oudministers agter tralies...

Seun (5) met kanker se gesin vra hulp

19 ure gelede | Mense

Ester KamatiDie Labuschagne-gesin op Otjiwarongo het onlangs die ontstellende nuus ontvang dat die vyfjarige Zu-Andre kanker het. Die diagnose het gevolg nadat bloed vroeg...