Vonke spat in NV oor Chinese
Estelle de Bruyn - Die vonke het gister behoorlik in die Nasionale Vergadering gespat toe die debat oor Chinese betrokkenheid in Namibië voortgesit is.
Die verrigtinge het Dinsdag met 'n bekgeveg tussen die president van die DTA, mnr. McHenry Venaani, en die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, geëindig.
Venaani het gesê ongeveer 80% van streekraadslede het reeds gratis reise na China onderneem en dat dit op “staatskaping” neerkom.
Hierop het Nujoma die DTA daarvan beskuldig dat dit met Suid-Afrika se koloniale apartheidsbewind saamgesweer het.
Die huis het uiteindelik verdaag nadat 'n woedende oor en weer geskree uitgebreek het.
Met die hervatting van die verrigtinge gister het die speaker, prof. Peter Katjavivi, albei lede opdrag gegee om hul opmerkings terug te trek.
Venaani het sy betoog hervat en gesê die Chinese se ekonomiese aktiwiteite in Namibië moet in die lig van China se wyer betrokkenheid en uitbreiding van sy geopolitiek gesien word. Hy het die uitreiking van werkspermitte vir Chinese handlangers wat werk soos verf en basiese konstruksie doen, bevraagteken – veral teen die agtergrond van die hoë werkloosheidsyfer van hoofsaaklik gewone werkers wat nie oor professionele kwalifikasies beskik nie.
Hy sê geen Namibiër sal toegelaat word om verfwerk in China te gaan doen nie.
Venaani sê in Oshikango is deesdae Chinese burgers wat die Oukwanyama-taal praat.
Die debat spruit uit ‘n mosie van mnr. Jan van Wyk van die United People’s Movement oor Chinese betrokkenheid in die Namibiese konstruksiebedryf.
Venaani het daarop gewys dat Namibië kundigheid nodig het, soos byvoorbeeld ingenieurs, en dat hy nie sal omgee indien Chinese, Britse of Suid-Afrikaanse ingenieurs die land inkom nie, maar wanneer ongeskoolde werkers inkom en werksgeleenthede wegneem van Namibiërs, stem dit hom tot kommer.
Hy het ook beweer dat Chinese omkoopgeld aan immigrasiebeamptes en diegene verantwoordelik vir die toestaan van werk- en verblyfpermitte betaal.
Ná afloop van Venaani se toespraak was Nujoma op sy voete en het gesê voordat hy sy uitlating terugtrek, wil hy bevestig dat hy bly by wat hy gesê het omdat dit die waarheid en geskiedenis is.
Katjavivi het egter volgehou dat Nujoma onvoorwaardelik sy opmerking terugtrek – wat hy toe gedoen het.
Nujoma was kort daarna weer op sy voete en duidelik in 'n uittartende bui. Hy het mnr. Usutuaije Maamberua van Swanu daarvan beskuldig dat hy “uitverkoop” het. Maamberua het dadelik opgestaan en 'n oor en weer geskree het weer uitgebreek waartydens Maamberua geëis het dat Nujoma dit moet terugtrek.
Katjivivi het hierop 'n einde gemaak aan die debat en geen verdere sprekers toegelaat nie.
Die huis is verdeel en 14 opposisielede in die huis het ten gunste van Van Wyk se mosie gestem, 53 Swapo-lede het daarteen gestem en mnr. Bernadus Swartbooi van Swapo het buite stemming gebly.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie