Volvo sit kragtoer voort met nuwe XC60
’n Omvattende aanbod van ruimte, veiligheid, spesifikasie en gehalte
Braam Peens - Die aangenaamste kenmerk van ’n Volvo ry, is die oorweldigende sensasie van vreedsaamheid wat ’n mens oorspoel sodra jy agter die stuur inskuif.
Dis nou teenoor die angs en eksistensiële minderwaardigheid wat dikwels opval by die bestuurders van luukse Duitse motors: boer by die bankbestuurder en ploeg by die sielkundige.
Dit gebeur doodeenvoudig nie in ’n Volvo nie. Jy’t die wêreld se vrede met jou bure se raserige hond, met Zuma, selfs met Trump. Twitter is vir die voëls, Facebook is vir die hoi polloi. Ry jy ’n Volvo, dan ís jy die sielkundige.
Maar wag, daar’s hoop
Ná ’n dekade van ’n middelmatige (en verouderende) produkreeks het Volvo sy renaissance in 2015 begin met die bekendstelling van die weergalose XC90-sewesitplek-sportnuts; immers benoem tot verlede jaar se Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar.
Van voorkoms tot veiligheid tot ruimte en toerustingvlakke is die XC90 eenvoudig onaantasbaar. Stylvol, sinvol, propvol.
Maar donker wolke dreig op die Sweedse horison. Die XC90 se kleinboet, die tweedegenerasie-vyfsitplek-XC60, is verlede week in Spanje bekend gestel en hoewel (of ten spyte daarvan) hy die XC90 se platform deel – ly hy erg aan middelkindsindroom.
Uiteraard bruis Volvo se nuwe ontwerp-DNS deur sy are, wat sigbaar is in sy LED-hoofligte (Volvo verwys na hul voorkoms as “Thor se hamer”) en die oorgroot korporatiewe sierrooster. Trouens, dis moeilik om die voorste helfte van sy profiel van die XC90 s’n te onderskei, die verskille is eers werklik merkbaar by sy stert, waar die lyne, hoeke en kleiner vensters opmerklik saamsweer om gestalte te gee aan sy meer kompakte (en bygesê effens minder elegante) voorkoms.
Lig op die enjinkap
Die nuweling is ’n kortkoppie langer en laer as sy voorganger, waarvan die agterpassasiers die meeste voordeel trek uit die ekstra paar sentimeter.
Die gebruik van die XC90 se platform bring mee dat sy enjins noodwendig ook in die XC60 ingespan word. Vir oningeligtes beteken dit uitsluitlik ’n tweeliter-viersilinderenjin met wisselende vlakke van aanjaging (turbo; turbo- en drukaangejaag; óf turbo- en drukaangejaag gekombineer met ’n elektriese motor); asook twee turbodiesels. Kragvlakke wissel tussen 187 kW/350 Nm tot 300 kW/640 Nm vir die petrolmodelle en 140 kW/400 Nm en 173 kW/480 Nm vir die diesels.
Alle modelle is toegerus met ’n agtgang- outomatiese ratkas en vierwielaandrywing – goedkoper, voorwielaangedrewe weergawes volg later.
Die reeks word plaaslik in die tweede kwartaal van 2018 bekend gestel (en met pryse wat eers dan bekend gemaak sal word), hoewel die witwarm hibridiese T8-vlagskipmodel se verskyning hier nog onderworpe is aan finale goedkeuring. Maak ’n plan, Volvo.
Deftig ingerig
Wat afwerkingsvlakke betref, is die beskikbare luukshede die karigste in die Momentum; die R-Design die sportiefste en die Inscription die omvattendste toegerus. In hierdie konteks is die beskrywing “karig” wel hoogs relatief, want selfs die intreemodel het ’n panoramiese sondak, leersitplekke, ’n dakrak, LED-hoofligte, elektries verstelbare sitplekke en ’n raakskerm. Die lys van standaardtoerusting vermeerder dienooreenkomstig in die R-Design- en Inscription-model (tesame met die prys, natuurlik).
Terwyl Volvo hom nie uitsonderlik steur aan die vereistes van dinamiese of absolute verrigting nie, staan sy belegging in veiligheidstelsels terug vir niks nie. Dié maatskappy se visie vir veiligheid beoog dat niemand teen 2020 in een van sy motors in ’n ongeluk sal sterf nie.
Dus is selfs die intree-XC60 toegerus met lomerigheid- en baanverlaatgonsers, sowel as Volvo se City Safety-stelsel, wat die voertuig teen snelhede onder 60 km/h óf vanself ten volle tot stilstand sal bring, óf vanself rondom voorwerpe soos voetgangers of diere in die pad sal laat uitswaai.
Die stelsel is ook slim genoeg om agter te kom dat jy na die aankomende baan gedwaal het en jou weer terugdruk na jou eie baan.
’n Verbeterde waarskustelsel, wat die blindekol dophou en jou motor in sy baan hou terwyl iemand jou verbysteek, is opsioneel, asook Pilot Assist, waartydens die motor homself semi-outonoom op snelweë kan bestuur.
Nie die ‘Diana-stel’
Die XC60 se kajuit is so te sê ’n spieëlbeeld van die XC90 s’n, wat grootliks verduidelik waarom dit so ’n zen-ervaring is om hom te bestuur. Dis Skandinawies, minimalisties en gesofistikeerd, teenoor die sombere Germaanse knoppiemalmeganika van sy mededingers. By (baie) nadere beskouing, is van die ’60 se materiaal en afwerking miskien nie heeltemal van dieselfde gehalte as die ’90 s’n nie, maar dit bly darem ligjare beter as die “Diana”-stel s’n wat jy by Morkels op huurkoop oor vyf jaar sal afbetaal.
Die sentrale raakskerm beheer omtrent al die motor se funksies; slegs die voor- en agtervensters se ontwasemfunksies word deur fisieke knoppies beheer. Dis die iPhone van binneruime.
Hoe loop hy?
Op die oop pad voel die XC60 aansienlik ligter as die XC90. Aldus Volvo is dit so bedoel, wat die XC60 se ritfilosofie veelseggend beskryf as “geïnspireerde selfvertroue” teenoor die XC90 se “ontspanne selfvertroue”.
Jy sit ook laer in eersgenoemde, die bakrol is meer beperk en hy’s matig gewillig dat sy neus harder in ’n draai gedruk kan word.
Die beskikbare spoed is natuurlik direk afhanklik van die hoeveelheid krag onder jou regtervoet, maar dis nuttig om te weet dat die XC60 T6 (235 kW/400 Nm) kan byhou met ’n vergelykbare BMW of selfs Porsche (Macan S).
Stof tot stof
Die XC60 se ander mededingers – almal Duits, soos die Audi Q5 en die Mercedes GLC – is só gefokus om hul eie binnelandse kompetisie uit te stof dat die Volvo eintlik ongesiens by hulle verbyseil. Daarom is dit dus hoegenaamd nie ’n verrassing dat die XC60 die wêreldwye topverkoper-Volvo is nie.
Dis werklik moeilik om fout te vind met die XC60, wat so ’n omvattende aanbod van ruimte, veiligheid, spesifikasie en gehalte – om niks te sê van waardigheid nie – bied. Hy verras jou min, want jy verwag so baie. Want kyk, hy bly ’n arm man se XC90, maar hy laat jou net so ryk van gees voel. Wie sou ooit kon dink dat ’n gesinstwis so ’n goeie nadraai kan hê? - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie