Volkswagen se stadsrakker verkoop fluks

Gerine Hoff
Marnus Hattingh


Volkswagen se klein stads­rakker, die Up!, is skaars ’n jaar hier en alreeds verkoop hy heel fluks.
Self was ons aanvanklik skepties, want sien, met sy piepklein eenliter­enjin sonder enige turbo-hulp en boonop net twee deure, het hy nie werklik sin gemaak bo ’n Polo Vivo nie. Maar die Up! se voorkoms is steeds treffend en met sy klein afmetings, is hy ’n prettige knaap om in die dorp mee rond te rits. Mense kyk met ’n glimlag na die ronde outjie.
Volkswagen het nou ook ’n paar vierdeurmodelle hier beskikbaar gestel. Die ekstra deure agter verander niks aan sy lengte of voorkoms nie, maar sy gewig is wel so amper ’n 100 kg swaarder, wat sy versnelling ’n sekonde of wat stadiger maak. Verbruik bly egter dieselfde as die tweedeurmodelle s’n, volgens Volkswagen se syfers.
Ons het die Cross up! vir ’n paar dae onder hande geneem – nog ’n nuwe toevoeging tot die plaaslike Up!-reeks. Die Cross up! is die “aktiewe leefstyl”-ryding in die Up!-familie en is beslaan met plastiek-­beskermstroke en ’n dakrak onder meer. Maar, belangriker, hy is ook een van die nuwe vierdeurmodelle.
Ek hou van die Cross up! se deur­mekaarkuif-benadering tot stadsry. Daar is iets wintie in hom: Die silwer­kleurige dakrak om ’n bergfiets of brander­plank op te sit, die silwerkleurige kantspieëls, die groter sierwiele en die hordes plastiekstroke al om sy some om jou bakwerk teen opskietklippers te beskerm.
Ook binnelangs het VW die Cross up! ’n bietjie mooier getooi as sy gewone broers en susters se kajuite. My helder­rooi model het rooi sitplekbekleedsel gehad en ’n helderrooi metaalpaneel rondom die radio. Die stuurwiel is ook met leer oorgetrek.
Maar ja, van die radio gepraat . . . As daar ’n achilleshiel by die Cross up! is, is dit sy klankstelsel. Gegewe dat die motortjie op jong mense gemik is, is dit werklik koddig dat hy net ’n CD-speler het. Daar is geen USB-sok nie. Dit is dan juis die manier waarop die jongklomp vandag na hul musiek luister, nie meer met CD’s nie. Trouens, ’n motor soos die Opel Adam het nie eens ’n CD-gleuf nie.
Volkswagen sê ’n mens moet ’n aparte pakket aanskaf (Touch & More) wat jou dan ’n los raakskerm gee wat jy bo-op die instrumentpaneel vassit. Met dié kon­trepsie kan jy dan jou slimfoon of klankboksie­ koordloos met die radio verbind. Maar weer, dit het geen USB-sok nie. Dit bied slegs ’n SD-sok, die groter soort kaart wat jy onder meer in GPS-toestelle vind. Dit is werklik vreemd. Het VW dan nie sy vinger op die pols van die jongklomp nie?
In die dorp ry die Cross up! heel gaaf. Hy is klein en kompak, dus is parkeerruimte vind geen probleem vir hom nie. Jy parkeer op enige halwe ruimte wat oop is.
Die driesilinderenjin gee ’n lekker knor as jy die lepel wegtrap. Versnelling is billik, maar sodra jy ekstra passasiers het, voel hy dit.
Die voordeel van die klein enjin is sy lae verbruik – ek het byvoorbeeld net bokant 5,3 liter gehandhaaf, wat heelwat stadsry ingesluit het. Dit is baie goed.
Nog iets om in gedagte te hou, is dat die vierdeurmodelle net ’n halfgrootte noodwiel het, en nie ’n volgrootte soos die tweedeurweergawes nie.
Die Up! is ’n lekker stad- en pendel­motortjie, en met die nuwe Cross up! het jy sommer heelwat houding ook bygekry.
Die ouwêreldse radio is ietwat van ’n beslommernis, maar dalk moedig dit jou aan om vanoggend se stort-sangoefening in die motor op pad werk toe voort te sit. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer