Volgende hoofstuk teen Rusland geskryf
Afrigter Phil Davies se manne sal graag hul toernooi op 'n hoë noot wil afsluit.
Andrew Poolman - Die rugbyspanne van Namibië en Rusland hervat Sondag hul hewige mededinging wanneer hul paaie in die Wêreldrugby Nasiebekertoernooi in Uruguay kruis.
Twee jaar gelede, net voor die Wêreldbekertoernooi, het die Namibiërs 'n tuisreeks teen Rusland met 2-0 beklink.
Beide spanne word juis nou weer sterk aangevuur deur die vooruitsig om vir die 2019 Wêreldbeker in Japan te kan kwalifiseer.
Namibië se naelskraapse openingsnederlaag teen Spanje laas Saterdag het meegebring dat hy vandeesweek met een plek op die wêreldranglys afgeskuif het – met die einste Rusland nou een posisie bo hom.
Woensdag het Renaldo Bothma en sy manne mooi reggeruk om Ontluikende Italië met 38-7 van hul voete te hardloop. Hierdie aanvallende resep is juis wat in die vorige reeks teen Rusland die deurslag gegee het.
Op sy beurt het die Russiese span tot dusver reeds beïndruk in die toernooi deur Argentinië se A-span (altyd 'n ongemaklike opponent) te klop voordat hulle Woensdag net-net nie die knoop teen die gasheerspan Uruguay kon deurhaak nie (39-32).
Die rooi span het nietemin gewys dat hy nie bang is om die wydte van die veld op die aanval te gebruik nie. In dié opsig kan hy gewis die Namibiese verdediging op die proef stel, wat dié week in die eerste helfte teen die Italianers 'n paar krake gewys het.
Sover dit die wedloop om die wennerstrofee betref, is die gasheerspan Uruguay in die binnebaan as voorloper – hoewel hy beslis 'n sterk aanslag van Spanje sal moet afweer.
Die Argentyne is ook 'n sterk buiteperd omdat hul laaste wedstryd teen die wenlose Italianers is.
Sondag se laaste wedstryde (afskoptye Namibiese wintertyd): Namibië tn Rusland 15:00; Argentinië XV tn Ontluikende Italië 17:15; Uruguay tn Spanje 19:30.
KLUBRUGBY
Op die tuisfront word reeds met afwagting uitgesien na vanaand se kragmeting tussen die Namibië Rugby-unie se premierliga se twee topspanne.
FNB Wanderers (tweede geplaas) het die tuisvoordeel teen die verdedigende kampioenspan FNB Unam, wie se string opeenvolgende oorwinnings reeds op 24 staan.
Die eerste spanne is bestem om 20:30 uit te draf, ná die tweede spanne se kragmeting om 18:30.
Die Wit Hingste en Unam se diepte word tans erg beproef met spelers wat na die nasionale spanne opgeroep is, maar die hewige mededinging op die veld die afgelope seisoene behoort geensins te verslap nie.
Op die puntelys het die studente (52 punte) die voorsprong bo Wanderers se 37.
In môre se drie premierliga-wedstryde (almal om 15:15) reis Walvisbaai om Reho Falcon op sy tuisdorp te gaan aandurf; Trustco United speel op sy Gemsbokpark teen FNB Western Suburbs, terwyl Rehoboth rugbyklub vir Kudus lê en inwag.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie