Volgende Eagles te sterk vir Botswana
Namibië se o.17-krieketspelers het verlede week gewys wat in hulle steek deur die besoekende nasionale o.19-span van Botswana in die hoofstad tydens die Momentum Opanga Cup (Vriendskapsbeker) in elke wedstryd te klop.
’n Groep van 23 spelers is gekies waaruit ’n uitnodigingspan saamgestel is wat die eerste 50-beurt wedstryd verlede Maandag met 2 lopies gewen het.
Afrigter Norbert Manyande se spelers moes eers die wurggreep van Botswana afskud alvorens Erich von Mollendorff met sy 32 lopies van 55 balle en Dewald Nel (vier paaltjies vir 32 lopies) die besoekers se aanslag kon stuit.
Die Dinsdag was dit die eerstekeuse elftal wat gedomineer het om dié 50-beurt wedstryd met ’n kolossale 302 lopies te wen. Kaptein Lo-han Louwrens (164 van 95 balle) en Nicol Loftie-Eaton (121 van 96 balle) was onverstoord voor die penne en het na willekeur lopies gemoker. Die duo se indrukwekkende kolfvertoning is deur Steven Delport, Ben Shikongo en Mauritius Ngupita se boulwerk ondersteun wat elkeen twee paaltjies geneem het.
Woensdag was dit tyd vir die seuns om mekaar in twee T20-botsings te pak. In die eerste kragmeting het die eerstekeuse elftal gerieflik met agt paaltjies geseëvier. Delport het opnuut sy stempel afgedruk deur drie paaltjies plat te trek, terwyl Petrus Burger se vinnige 30 lopies van 14 balle ook indruk gemaak het.
Die uitnodigingspan was ietwat onkant gevang met die weerstand waarmee die besoekers vorendag mee gekom het, maar dit is Loftie-Eaton se blitsende kolf wat sake vir die jong Eagles beredder toe hy 22 van 9 aflewerings slaan om die wedstryd met ses lopies te wen.
Die laaste twee wedstryde van die toernooi was weer in die langer weergawe van 50 beurte. Hierdie keer het die uitnodigingspan hom beter laat geld en klop Botswana met 59 lopies. Von Mollendorff met ’n geduldige 50 van 94 balle en Floris Steenkamp met 60 van 42 balle was die twee uitblinkers met die kolf.
Met die boulaanslag was Steenkamp met sy draaiballe weereens aan die voorpunt met 3/37.
Die eerstekeuse elftal se dominansie het geen momentum in die laaste 50-beurt wedstryd verloor nie en hulle wen gemaklik met 232 lopies. Louwrens wys met sy 164 van 82 balle hoekom hy as een van Namibië toekomstige staatmakers beskou word, terwyl Albert van der Merwe sy honderdtal net-net misloop toe hy op 99 uit is.
By die boulers het Estiaan Jacobs meer as net sy kant gebring toe hy drie paaltjies in agt boulbeurte laat kantel en net 21 lopies afstaan. Louwrens steel ook weer die kollig toe hy drie kolwers vir agt lopies met 22 balle laat stap.
Ná die kompetisie afgehandel was, is spelers vir hul harde werk by ’n amptelike geleentheid beloon. Dit was geen verrassing toe Louwrens as speler van die toernooi aangewys is nie, terwyl Nicol Loftie-Eaton, die Namibiese o.15-kaptein, met die toekenning as beste kolwer wegstap.
Vir Botswana het Druv Maisuria as beste bouler in die toernooi sy landsvlag laat wapper.
Die spelers wat vir Namibië in die toernooi verteenwoordig het, was Liam Hermanus, Richard Stears, Erich von Mollendorf, Izak van der Merwe, Estiaan Jacobs, Tiaan Jacobsz, Lohan Louwrens, Eben van Wyk, Janu Dreyer, Steven Delport, Donovan Zealand, Shaun Fouche, Enrico van der Westhuizen, Gerhard Lottering, Victor van der Watt, Ben Shikongo, Mauritius Ngupita, Damian de Silver, Dewald Nel, Flores Steenkamp, Petrus Burger, Keanu Engelbrecht en Albert van der Merwe.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie