Voetgangers dood in tref-en-trap
Voetgangers dood in tref-en-trap

Voetgangers dood in tref-en-trap

Drie mense is in die hospitaal op Walvisbaai nadat ’n man oor ’n rooi verkeerslig gery het.
’n 39-jarige vrou is glo Vrydagaand in die Oneshila informele nedersetting op Oshakati doodgery.

Volgens ’n polisieverslag was Dorothea Ashipala besig om oor die pad te stap toe ’n drywer van ’n wit Wolkswagen Golf haar raakgery het. Volgens die verslag is sy op slag dood.

“Die 27-jarige drywer het aanvanklik gevlug, maar is later deur die polisie opgespoor en in hegtenis geneem.

Nog ’n voetganger is glo Vrydag omstreeks 05:30 op die Trans-Caprivi hoofweg naby die Ndiyona informele nedersetting in die Kavango-Oosstreek doodgery.

Die man is glo as Kanyanga Johannes Shikongo uitgeken.

B1-HOOFWEG

Vier insittendes was Saterdag omstreeks 18:45 op die B1-hoofweg, 26 km voor Oshivelo, in ’n voertuig wat omgeslaan het toe die bestuurder vir ’n bok uitgeswai het.

“Die 54-jarige drywer was vermoedelik op pad van Ondangwa na Omangetti. Toe hy vir die bok uitswaai, het hy beheer van die motor verloor en dit het gerol,” lui die verslag.

Die bestuurder het glo ernstige beserings opgedoen.

DRIE IN HOSPITAAL OP WALVISBAAI

In Walvisbaai het die bestuurder van ’n silwer sedanmotor glo nie by ’n rooi verkeerslig stilgehou nie. Volgens die verslag het hy ’n groen Chevrolet Spark getref en dié het verder teen nóg ’n motor gestamp.

Die ongeluk het omstreeks 18:00 op die hoek van Nangolo Mbumbalaan en Johnson Fwafwa Mabagengstraat plaasgevind.

“Die drywer van die silwer sedanmotor het ernstige besering opgedoen, asook die twee passasiers wat in die Chevrolet Spark was. Hulle is na die staatshospitaal in Walvisbaai geneem. Die bestuurder van die derde voertuig was ongedeerd.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer