Vlieu00ebniers reg om te help met SAL
Vlieu00ebniers reg om te help met SAL

Vlieëniers reg om te help met SAL

Francois Williams - Die vlieëniers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is in die verlede altyd op die kantlyn gelaat deur ­onbeholpe bestuur wat net hul magsbasis wou vestig en nie in die beste belang van die lugdiens op­getree het nie.

So sê kapt. Grant Back, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens-vlieëniersvereniging (Saapa) in reaksie op die jongste nuus oor 12 vlugte wat die lugdiens vandeesweek gekanselleer het.

As die vlieëniers betrek was in die regruk van die SAL, sou die kans op sukses veel groter gewees het as nou, sê Back.

“Ons werk proaktief saam met die sakereddingspraktisyn. Al Saapa se pogings is daarop gemik om die lugdiens te red, dit finansieel te laat stabiliseer en goeie, skoon en verantwoordbare korporatiewe bestuur te verseker. Dit sal sterk leiers verg met die nodige vaardige en ervare kundiges in hul onder­skeie velde. Dit moet 'n bestuursverandering insluit waarvoor ons al herhaaldelik gevra het.”

Back sê hulle het ook maar deur die media van die kansellering van die vlugte gehoor en die SAL-bestuur het nie die vlieëniers vooraf gewaarsku nie.

Hy glo die besluit op die kansellasies wys duidelik die lugdiens wil sy kontantvloei beskerm.

“Saapa is vasbeslote om die lugdiens te red tot voordeel van ons lojale passasiers en hardwerkende personeel, insluitende die vlieë­niers, asook die Suid-Afrikaanse belastingbetaler.”

Volgens Back het hulle verneem die “konsolidasie” van vlugte is 'n tydelike maatreël en hulle sal vir meer inligting oor die toekomstige grootte en vorm van die lugdiens moet wag voordat hy kan sê hoe dit die personeel gaan raak.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer