• Tuisblad
  • Sport
  • Vlieënier uit Switserland wen “Fly In” 2021

Vlieënier uit Switserland wen “Fly In” 2021

Lugvaart
Erwin Leuschner
Erwin Leuschner



Vanjaar se “Uis Fly-In” lugvaartbyeenkoms is onlangs vir die sesde keer op die normaalweg stil vliegveld in die klein dorpie Uis gehou.

Agtien vlieëniers het saam met hul medevlieëniers aan die kompetisie deelgeneem om hul vaardighede uit te stal. Vanweë die huidige Covid-19-regulasies was daar egter net 'n paar toeskouers.

Die organiseerders is besonder in hul noppies met die geleentheid wat deur LISAMA (Light Sport and Amateur-build Aircraft Association of Namibia) gereël is.

“Dit was weer 'n groot sukses,” het Heidi Snyman, voorsitter van LISAMA, gesê. Die reaksie van die deelnemers en besoekers was ook baie positief.

Volgens Snyman is altesaam 35 klein vliegtuie, helikopters en mikrovliegtuie op die vliegveld getel.

Vanweë die huidige vlakke van die pandemie kon belangstellende deelnemers uit Suid-Afrika nie hierdie keer deelneem nie, want Upington se lughawe is steeds gesluit vir vlugte na Namibië.

Dirk Reich van Switserland het egter nie die kans laat verbygaan nie en ondanks al die teëstand in sy pad het hy aan die “Fly In” kom deelneem. Reich het Vrydagoggend voor die aanvang van die kompetisie geland en Sondagaand weer uit Namibië vertrek.

Die organiseerders is veral tevrede met die uitslag dat 'n Namibiese span van vyf vlieëniers en een plaasvervanger gekies kon word om in November 2021 na die wêreldkampioenskap op Stellenbosch gestuur te word.

Soos gewoonlik bedank die ­organiseerders alle deelnemers, helpers en borge wat bygedra het tot die sukses van die vlieënierbyeenkoms.

Die uitslae van die “Fly In” 2021:

Wenner van navigasie-oefening: Dirk Reich

Wenner van presisie-landing: Nadia Braune

Beste radiokommunikasie: Laura Braune

Beste vliegtuigbestuur (“airmanship”): Michael Tröh

Algehele wenner:

1 Dirk Reich en Rodrik van Neel

2 David Francis en Kai Rubow

3 Gero Bajorat en Johan Botes

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer