Vlammegloed verdryf koue

Tanja Bause
Tanja Bause en Ronelle Rademeyer

Mnr. Ipinge Wendelinus kan elke oggend in die Klein Windhoek-rivierloop gesien word waar hy probeer om homself by ’n klein vuur warm te maak.

“Ek bly in die Ombili- informele nedersetting en elke oggend om 05:00 begin ek stap om my plek oorkant die NG Kerk Eros in te neem. Ek is een van die manne wat daar vir werk wag,” het hy gesê.

Volgens hom is die parkeerterrein waar hulle op werk wag baie koud en het hy in die rivier op ’n klein boom afgekom wat met die laaste reën afgespoel het.

“Soos ek loop maak ek klein houtjies bymekaar en dan maak ek ’n vuur om myself warm te maak voordat ek werk gaan soek.”

Volgens hom is werk deesdae skaars, maar hy sal nog steeds elke dag na die parkeerterrein gaan in die hoop om ’n dag se werk te kry sodat hy kos op die tafel kan sit.

WARMER WEER DIé WEEK VERWAG

Namibiërs wat in die Suide, Ooste en sentrale dele woon, het die afgelope dae behoorlik gebibber.

Mnr. Rhyno Gilbert het vroeg Saterdagoggend op die plaas Erfenis in die Gobabis-distrik -13 grade Celsius in sy voertuig gemeet.

Die Privaatskool Elnatan het foto’s op Facebook geplaas van sprokiesmooi ystonele Donderdagoggend op die skoolterrein en by die sportveld.

Volgens AfriWx Southern African Weather sal die minimum temperature in die komende week nie onder vriespunt daal nie. Die oostelike en sentrale dele sal tot Woensdag tussen 2 en 5 grade Celsius wees en opwarm tot in die lae tot middel 20’s. Die Suide sal effe warmer wees en in die Noorde sal die maksimum temperature digby 30 grade Celsius wees.

Oosweertoestande met hoë temperature word langs die kus verwag. - [email protected] en [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer