Vlakwater: Spel van donker en lig
Oor die afgelope dekades het Ingrid Winterbach ’n reputasie verwerf as een van die belangrikste en boeiendste Afrikaanse romanskrywers.
Haar nuwe roman, Vlakwater, sluit in baie opsigte aan by haar vorige twee romans, Die benederyk en Die aanspraak van lewende wesens. Daar is dieselfde motiewe en temas in al drie romans: Hulle handel oor menslike verlies en die pynlike reis na heling.
Twee verhale ontwikkel naas mekaar in Vlakwater. In die hoofverhaal moet Niek Steyn, ’n kunstenaar en kunsdosent, die verbrokkeling van ’n liefdesverhouding verwerk. Wanneer ’n aantreklike jong kunsstudent ’n kamer by hom huur, lyk dit of sy vir hom troos sal bring – maar dan verdwyn sy onverwags, en later vind Niek uit dat ’n verskriklike ramp haar getref het. Hierdie verhaal word in die derde persoon vertel.
Die tweede verhaal word in die eerstepersoonsvorm aangebied en het ’n meer persoonlike toon. ’n Anonieme vrou is aan die woord. Sy rig haar tot ’n anonieme “jy”. Hulle albei soek troos ná die dood van ’n gemeenskaplike vriend.
Die twee hoofkarakters word deur dieselfde persoon bedreig: Die skrywer van ’n donker roman met dieselfde titel as Winterbach se boek. Hy is skynbaar ’n demoniese karakter wat die gewelddadige tonele in sy roman in die lewe waar wil maak. In ’n poging om te ontvlug, gaan albei hoofkarakters op ’n reis langs dieselfde pad, maar hulle kom nooit bymekaar uit nie. Die twee verhale beweeg rakelings naas mekaar sonder om ooit direk te ontmoet. Die karakters deel soortgelyke ervarings sonder om ooit van mekaar bewus te wees of hul ervarings met mekaar te kan deel.
Vlakwater is ’n soort misdaadroman, waarin ’n duiwelse moordenaar blykbaar op die spoor van die twee hoofkarakters is. Maar dis nie ’n konvensionele misdaadroman nie. Die karakters en gebeure is gehul in onsekerheid, en die misterie word tot die einde gehandhaaf. Die skurk van die verhaal bly byvoorbeeld ’n raaisel, en die leser kan hom of sy motiewe nooit deurgrond nie. Hierdie waas van onsekerheid pas volkome by die opset van die roman, wat die onseker, onbekende wêreld van die moderne mens uitbeeld. Die siening van die “skurk” is per slot van rekening ander karakters se interpretasie van hom; dis nie objektief vasstelbaar nie.
Die roman kan as ’n dokumentering van ons tyd gelees word wat die donker kant van die menslike natuur ontbloot. Geweld, verkragting en moord is algemeen. Pogings om orde te skep, word steeds deur chaos bedreig. Opvallend is die tonele waar die karakters in direkte aanraking met ’n lyk kom. Dit is ’n tipiese voorbeeld van wat Kristeva die “abjekte” genoem het – ’n bedreigende werklikheid wat jy van jou wil wegwerp, maar waarvan jy nie ontslae kan raak nie, wat jou angs aanja en tegelyk fassineer.
Die roman beeld dinge uit wat liefs deur die rasionalistiese, burgerlike samelewing ontken word: Die mens se irrasionele, gewelddadige kant, maar ook die strewe na transformasie en heelwording.
Dit handel oor sowel demoniese bedreigings as die verlangens van die siel. Die transendente verlange, die begeerte na iets hoërs as die materialistiese bestaan, word onder meer deur die landskap gesuggereer, die roerende skoonheid van berg en maan. Verder is die stryd tussen orde en chaos, tussen goed en kwaad, van wesenlike belang.
Dit blyk dat die menslike natuur donkerder kante het as wat die burgermens graag wil glo, maar ook hoër drange bevat wat dikwels ontken word – die sielsverlange na verlossing en heling.
Daar is ’n groot verwysingsveld in die roman, en die leser wat bereid is om ’n bietjie naslaanwerk te doen kan ’n ryke versameling van kunstenaars en kunswerke deur die verhaal leer ken.
Niek, as kunsdosent, stel belang in die kunstenaars wat sy eie worstelinge kreatief verwerk, en sy reaksies op ander kunstenaars is ’n indirekte uitdrukking van sy eie gemoed. Sy gesprekke met sy buurman Marthinus en dié se vriende bring ook vir Niek (en die leser) in aanraking met die groot heelmeesters deur die eeue heen wat inspireer en hoop verskaf.
Sowel Niek as die “ek” van die tweede verhaal kom nie by ’n finale ruspunt uit nie – dit sou te maklik wees. Maar albei vind tog troos op vele maniere, onder meer deur die meelewing van vriende. Die verteller van verhaal twee dink aan die einde van die roman aan al die goeie dinge wat sy het, dinge wat haar verliese balanseer. Dit sluit ook in: “Ek het ’n blik op die berge, op die horison, waar berg en lug ontmoet, waar die son elke oggend opkom, met meer prag as waarvoor ek ooit woorde of trane sal hê.”
Vlakwater sal seker nie in die smaak val van lesers wat hou van ’n realistiese misdaadroman met ’n duidelike ontknoping nie, maar vir my is dit ’n diepsinnige werk van ’n uiters boeiende skrywer.
Vlakwater (ISBN 9780798170475) word deur Human & Rousseau vrygestel.
Chris van der Merwe is ’n afgetrede professor van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie