Vir watter span speel ju00fd?
Vir watter span speel ju00fd?

Vir watter span speel jý?

Denver Kisting
Daar is talle goed waaroor ek onseker is.

Trouens, hoe meer mens dink jy weet, hoe meer moet mens toegee – mens weet ál minder.

Was dit hoeka Aristoteles wat van mening was “hoe meer jy weet, hoe meer weet jy jy weet nié”?

Wat ek wel dink ek weet, is dat ’n span wat nie saamwerk nie, geen vreugdevolle gebeurtenis is nie.

Wel, dis baie meer as dit – die staatshoof sal sy dag sonder sy gunstelingontbytprogram moet aanpak as ’n span nie op hul tone bly nie en 'n nasie sal van hul kykgenot beroof wees.

’n Mens sal nie glo wat dit verg om so ’n ontbytprogram regstreeks op nasionale televisie op die been te bring nie.

Nagenoeg 15 mense moet elke oggend – vyf dae ’n week – vroeër as douvoordag opstaan om die tafel te dek vir ’n aktualiteitsprogram wat derduisende kykers tussen 06:00 en 08:00 voor hul kassie vasgenael het.

Die vorige dag reeds moet ’n span vervaardigers spook om minstens 10 gaste te oorreed om hulle daartoe te verbind om, eerstens, ’n uur of twee se slaap in te boet, en dan die vroegoggendbyt buite te trotseer om dan op nasionale televisie in-, uit- en vasgevra te word oor allerlei hiervan en daarvan wat sake van die dag (of nag) betref.

Op die dag van die uitsending moet die nagenoeg 15 individue dan reg- en bontstaan – voor en agter die skerms en kameras – om seker te maak die nasie kry hul dosis stories agter elke brekende storie.

Onbetroubaar word verneem selfs president Hage Geingob verpas kwalik ’n uitsending van dié program.

Die grootste persoonlike en professionele bate vir my om by dié span betrokke te wees, is die krisisbestuurvaardighede wat mens opdoen.

Elke liewe uitsending behels twee ure van ontvouende krisisse.

Verlede Donderdag was geen uitsondering nie. Mens sou sweer die Maandag was nie rof genoeg nie dat dit herhaal moes word.

In die omgewing van 04:00 – presies die tyd wat ons reg moet wees vir die werk se bussie om ons tuis op te pik en heelhuids en betyds by die werk te besorg – laat weet ’n kritieke spanmaat sy het siek geword.

Inderhaas moes ’n kollega, wat na homself as die ambulansaanbieder verwys, gevra word of hy sal kan instaan. Hy roep homself só omdat hy al dikwels ter elfder ure ateljee toe moes haas om ’n plaasvervangerrol te vertolk.

Toe gebeur iets wat ’n kamerman, wat al 10 jaar op die program werk, nog nooit ervaar het nie: Die ligte in die ateljee verseg om aan te gaan. Pandemonium bars op swierige wyse los. ’n Sweterige geswets en ’n geheen-en-weer-hollery werp geen vrugte af nie.

Skuins ná 06:00, nadat noodgebede nie eens dié laat-daar-lig-wees-krisis kon besleg nie, begin trek ons stel en al na ’n ander ateljee toe.

Om na dié toneel as ’n gedoente van epidermiese proporsies te verwys, sal nie geregtigheid daaraan laat geskied nie. Dit was algehele chaos.

Op die kop 06:18 is ons op die lug. Ek en die mede-aanbieder vra plegtig en nederig om verskoning en gee voor dat ons die toonbeeld van algehele grasie, onverskrokkenheid en rustigheid is.

Met moerse moeite, want van die ander goed wat skeef kan loop, loop natuurlik óók skeef, kry ons die wa saam met die res van die crew deur die drif gesukkel.

Van hoër vlakke van adrenalien sal min mense my kan vertel.

Ek speel vir ’n paar spanne, maar veral vir een wat saamstaan. ’n Span wat hande en kragte saamsnoer wanneer krisis, algehele chaos en onbeantwoorde gebede toeslaan.

Vir watter span speel jý?

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer