Vir ons kinders se wyse manne en vroue
Vir ons kinders se wyse manne en vroue

Vir ons kinders se wyse manne en vroue

Jo-Mare Duddy Booysen
“Ma, moet ásseblief net nie wéér huil nie,” pleit hy met die uitklimslag.

Daar’s ‘n moedelose desperaatheid in die nou reeds growwe stem. Want hy wéét: As dit kom by grootwordjare, het hierdie ma die emosionele niemandsland van tienerwees lankal vergeet.

Die jare het hopeloos té vinnig verbygevlieg, sug my vlak trane. Het ek dan nie net gister sy hand vir sy heel eerste skooldag vasgehou nie? En nou stap hy amperman alleen saal in vir sy laerskoolafskeidkonsert.

“Hou jou oë op die goeie, hou jou oë op die mooi,” sing hy en die ander laerskoolverlaters vir oulaas. “Bly kleef aan die mooi en word getransformeer deur dit wat die waarheid jou leer.”

Van die waarheid het hy by ons geleer, dis so. Maar soveel meer by die onderwysers wat hom vir sewe jaar met liefde, kennis en geduld – en ‘n tikkie dissipline waar nodig - gementor en gekoester het.

My hart loop oor van trots, maar meer nog van dankbaarheid. Vir die onbaatsugtige en oneindige groot rol wat juffrouens en menere in die ontwikkeling van die menswees van my kind gespeel het – by die skool én daar buite.

Vreemdelinge was hulle met die ontmoetslag, nou is hul name vir ewig in sy – en óns – harte vasgevang.

Hierdie skrywe is ‘n nederige poging om vir elke goeie onderwyser in ons land dankie te sê.

Dankie dat ons elke dag ons kinders by julle kan aflaai. Dat julle hulle leer vlieg, want ons dol bestaan laat dit beswaarlik toe.

Daar is niks so gerusstellend om te weet jou kind is in goeie hande en veilig nie. Niks so salig om ná ‘n lang dag by die huis te kom en te hoor hoe sy vlerkies sterker in die nes klap en hoe hy stadig, maar seker van een tak na ‘n hoër een vlieg. En dan een goeie dag sommer so wye draai deur die blou lug gooi.

Dankie dat julle die kaleidskoop van die mens diep binne in die kind herken lank voor hy of sy dit raaksien. Dankie dat julle sonder handskoene en sonder ophou daai turksby afskil, bietjie vir bietjie, dag ná dag.

Dankie dat julle nie tou opgooi nie, selfs al wil ons as ouers soms.

Dankie veral vir vanjaar. Julle, soos verpleegsters en dokters en ander noodpersoneel, was eerstelinie-vegters. Julle was die medisyne wat ons kinders se bang harte en koppe moes dokter.

Dikwels ten koste van jul eie families, daaroor het ek nie twyfel nie.

Dankie vir die lang ure, dankie dat julle kuberklaskamers in die nuwe normaal warm en gesellig gemaak het. Dankie dat julle eindelose oproepe en WhatsApps en SMS’e enigetyd, enige dag beantwoord het.

Dankie veral vir daai oproep en sagte vermaning as julle opgemerk het dinge by die huis gaan effe rof.

“My hart breek vir jou. Wie verstaan die lewe se uitklop hou? Wie sal hieruit kan sin maak?” sing die kinders in hul afskeidslied.

Juffrou en Meneer, ek weet ook jou hart het vir my kind gebreek. Vir ons almal s’n. Dankie daarvoor, dankie dat jy help sin maak het uit ‘n onsigbare vyand wat ons almal se lewens holderstebolder kom omkrap het. Selfs al het ons as grootmense ook nie lekker verstaan nie.

“Maar dan skep ons moed deur ons oë weer te rig op die mooiste uitsig van 'n sonopkoms wat teen die eindpunt wag,” sing hulle verder.

Dankie dat julle kinders weer laat opkyk het. Dat julle hulle elke dag daaraan herinner dat wanneer die nag op sy donkerste is, die son oor die naaste randjie gaan begin loer.

Vir elkeen van julle wens ek ‘n veel verdiende sonsak oor 2020. En die mooiste sonsopkoms vir 2021.

Baie, baie dankie!

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer