Vind 'n rede om dié een te gaan kyk

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - In verskeie opsigte is môre se Currie­beker eersteligawedstryd op Swakopmund 'n spesiale geleentheid.

Namibië se amateurspan, die Windhoek Draught Welwitschias, sluit sy deelname aan vanjaar se kompetisie teen die Boland Kavaliers af.

Die Bolanders is tans vierde op die puntelys en sal hul plek in die halfeindronde wil verstewig, terwyl die Namibiërs nie meer die uitklopfase kan haal nie, maar nogtans hoogs gemotiveerd sal wees om 'n seisoen wat in ses wedstryde vier nael­skraapse nederlae bevat het, op 'n veel meer heuglike noot af te sluit.

Asof enige motivering nodig is, wys die rekordboeke dat geen Namibiese span sedert onafhanklikwording nog 'n oorwinning teen die Boland behaal het nie.

'n Laat verandering is aan die gasheerspan aangebring toe 'n sterfgeval die onttrekking van die stut Hauta Veii teweeg gebring het.

In sy plek sal AJ de Klerk aan die loskopkant sak, terwyl Christo McNish vir die reserwebank nader geroep is.

Die Bolanders het laasjaar op hul tuisveld in Wellington 'n formidabele wentelling van 110-10 teen die Namibiërs opgestapel, wat egter veel minder skietgoed as nou gehad het omdat verskeie staatmakers afwesig was.

Dit is veelseggend dat Lesley Klim die enigste speler is wat van daardie nederlaag oorgebly het (tesame met Veii wat intussen onttrek het). Max Katjijeko en JC Winkler het darem ook dié seisoen nog provinsiale rugby gespeel.

Moontlik dié tweestryd wat fyn dopgehou moet word, is tussen Klim en sy direkte opponent, Alcino Izaacs. Sommige van Izaacs se vertonings sover dié seisoen is in die media as “sensasioneel” beskryf en sommige waarnemers vind dit vreemd dat die gebore Windhoeker nog nooit 'n uitnodiging gekry het om vir 'n plek in die nasionale span mee te ding nie.

Daar is geen rede om te vermoed dat môre se wedstryd nié die oop, avontuurlike hardlooprugby sal opdis waarvoor beide spanne bekend is nie.

'n Gevaarman soos die Boland-regtervleuel Charles Mayeza het immers reeds agt drieë in die Curriebeker eerste liga gedruk (hy is algeheel tweede ná die Luiperds se agtsteman Jeandre Rudolph). Nie ver agter hom nie is die Namibiese nommer 14 Johann Tromp met ses vyfpunters tot dusver, terwyl Klim en David Philander sover elkeen vier het.

Aan die Namibiese kant sal die besoekers straks die beste vertroud wees met die vermoëns van losskakel Theuns Kotzé, wat tot laasjaar nog vir hulle uitgedraf het. Kotzé is met 54 punte in die kompetisie vierde op die puntelys en sy 21 suksesvolle doelskoppe is meer as enige ander skopper.

Môre se geleentheid is vir vyftienmanrugby by die kusstreek iets besonders, want in feitlik geen era is wedstryde van sulke aansien op Swakopmund aangebied nie.

'n Vorige blomtydperk was straks laas in 1990, toe die oorsese toerspanne van Frankryk, Wallis, Wes-Duitsland en Italië wedstryde teen die kus se Welwitschia-streekspan gespeel het.

Boland Kavaliers: 15 Adriaan Carelse, 14 Charles Mayeza, 13 Alcino Izaacs, 12 Edwin Sass, 11 Sergio Torrens, 10 Elgar Watts, 9 Jovelian de Koker, 8 Zandre Jordaan (kapt), 7 Kenan Cronje, 6 Wayne Wilschut, 5 Rinus Bothma, 4 Marlyn Williams, 3 Clinton Theron, 2 Clemen Lewis, 1 Arnout Malherbe.

Reserwes: Francois Esterhuyzen, Kyle Kruger / Linda Thwala, Chaney Willemse, Gareth Cilliers, Vian van der Watt, Gerrit van Wyk, Valentino Wellman.

Windhoek Draught Welwitschias: 15 Mahco Prinsloo, 14 Johann Tromp, 13 Lesley Klim, 12 Darryl de la Harpe, 11 David Philander, 10 Theuns Kotzé, 9 Eugene Jantjies (kapt), 8 Thomas Kali, 7 Thomasau Forbes, 6 Rohan Kitshoff, 5 Denzil van Wyk, 4 Ruan Ludick, 3 Herman Grobler, 2 Obert Nortjé, 1 AJ de Klerk.

Reserwes: Niël van Vuuren, Christo McNish, Nelius Theron, Muniovita Kasiringua, Riaan de Klerk, PW Steenkamp, Heinrich Smit.

• Om te vergelyk, hier is die Welwitschias-span wat laas jaar op Wellington 'n pak slae met 110-10 gaan haal het: 15 Justin Nel, 14 Phillip Nashikaku, 13 Lesley Klim, 12 Shaun Kaizemi, 11 Malcolm Moore, 10 Aurelio Plato, 9 Cameron Klassen, 8 Morné Blom, 7 Max Katjijeko, 6 Zayne Groenewaldt, 5 Wikus Davis, 4 Alberto Engelbrecht, 3 Hauta Veii, 2 Dewald Coetzee, 1 Quintin Esterhuizen (kapt).

Reserwes: Petri Burger, Collen Smith, Grandt Nash, Johann Wohler, JC Winkler, Riaan van Zyl, Chess Lawrence.

• Kaartjies kan vooraf op webtickets.com.na gekoop word teen N$60 (hoofpawiljoen), N$30 vir volwassenes en N$10 vir kinders.

Kommentaar

Republikein 2025-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer