Viertal wag gretig in Mauritius

Bergfietsry
Andrew Poolman
Michelle Vorster se eerste podium-posisie by ’n byeenkoms in die Suid-Afrikaanse nasionale bergfietsry-bekerreeks (Xco) het haar selfvertroue ’n hupstoot gegee vir die kontinentale uitdaging wat komende naweek voorlê.

Die Namibiër was in Bloemfontein derde oor die eindstreep ná vyf rondes om ’n moeilike baan vir die elite vroue.

“Baie stowwerig, klipperig en hard, alles wat ’n bergfietsren moes wees,” is hoe die vrouewenner Mariske Strauss van die Kaap dit agterna beskryf het.

Strauss het haar wedren in een uur 38 minute 55 sekondes gewen, met Vorster sewe minute stadiger.

Vorster is een van vier Namibiërs wat laas naweek in Bloemfontein stewig presteer het en wat Maandag die reis na Mauritius vir die Afrika bergfietskampioenskap aangepak het.

Haar landgenote is Tristan de Lange, die o.23-jaer wat in Bloemfontein sewende van die elite mans klaargemaak het; Alex Miller (derde van die junior mans) en Marcel Holtz (negende van die junior mans).

Die belowende Miller (1:10:55) is net deur die gasheerland se Pieter du Toit (1:08:53) en Johann Trotzky (1:10:55) oortref.

Die Namibiese Fietsryfederasie – moontlik onder finansiële druk omdat hy tans maar net as ’n C-kategorie sportkode deur die Namibiese Sportkommissie geklassifiseer word sover dit staatshulp betref – het besluit om nie ’n amptelike span na Mauritius te stuur nie.

Die aansoeke van die individuele ryers om die reis te onderneem, is wel goedgekeur, het die Federasie se vispresident mnr. Rolf Adrian gister gesê.

Die viertal ryers word deur mnr. Aiden de Lange en Wynand Holtz as tegniese en ondersteuningsbeamptes vergesel

“Ek is redelik opgewonde en glo dit sal goed gaan. Ek hoop beslis om die Afrika-titel huis toe te bring,” het Vorster gister uit Mauritius aan die koerant gesê.

“Ons mag eers van (vandag) af op die baan gaan, maar dit is tans baie nat en modderig hier – nie omstandighede waaraan ons Namibiërs baie gewoond is nie. Die registrasie word ook (vandag) gedoen en dan behoort ons meer van die besonderhede te weet.”

Kommentaar

Republikein 2025-08-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer