Vierdehands
Vierdehands

Vierdehands

Lloyd Zandberg
Toe ek 10 jaar oud was, het ons 'n nuwe kar gekry. Ons was meer opgewonde as mense wat een van daai vakansiepakkette wat alles insluit (van sonroom tot die bypassende kamerjassie) gekoop het.

Ons was definitief nie die rykes op die dorp nie, maar ons het ten minste langnaweke weggegaan, Woensdae meer as een bykos geëet, my ma kon eenmaal 'n maand streaks in haar hare sit en partykeer bly vir 'n blowdry, my broer het 'n Playstation gehad en my stiefpa kon sy biltongverslawing onder beheer hou. Ek was tevrede met 'n vol snoepielaai.

Maar dit het nie beteken dat ons die nuutste, platste, vinnigste, mooiste of deftigste kar in die kontrei kon bekostig nie.

Ons nuwe kar was eintlik oud. Vierdehands. Kry mens so iets? Of is hy net plein vodde, oud en ongemaklik na die tweede stel hande? Maak nie saak nie. As hy die eerste keer in jou besit is, is hy nuut.

Die motor was glad nie so lekker soos my beste vriende se ma se kar nie. Sy het een van daai blink nommers gery wat jou laat voel dat jy met die verkeerde van gebore is.

Ons nuwe kar, aan die anderkant, kon in vierde rat darem busse, donkiekarre, fietsryers en vragmotors verbysteek. My stiefpa het wel gedurig gekla oor sy vyfde rat wat vashaak of begin gly. Behalwe vir daai haakplek of twee was sy lieflik.

In daai stadium was ek nie vreeslik ingestel op wat 'n kar spesiaal of beter maak nie, hoewel ek bewus van Mercedes, BMW en Jaguar was.

Ek het geweet dit was nie die beste wiele op die pad nie, maar solank ons strand toe kon ry, vir Ouma-hulle gaan kuier, ice creams koop en flieks gaan kyk, was ek tevrede (of dit was 'n voorreg).

En ek was net te bly ons ry 'n nuwe kar. Of 'n nuwe ou kar. Noem dit wat jy wil. 'n Nuwe kar wat voor die driveway intrek terwyl jy en boetie voor die sitkamerruit sit en wag, bly nou maar 'n vreeslike storie.

Dit is 'n gevoel wat ek nie lekker kan beskryf nie. Dit is amper asof dit nie real is nie.

Ek onthou daai dag so vaagweg. Dit was 'n paar dae ná my verjaar­dag en die huis was nog vol koek, ballonne, streamers, konfetti en Tupperware-bakke vol Simba-chips. My ouers het so 'n maand of wat voor dit vir ons vertel dat ons dalk, maar net dalk (ons moet soet wees en nie terugpraat nie), 'n nuwe kar gaan kry. Dit daar gelaat.

As jy mos so klein is, vergeet jy soms goeters. Veral om jou huiswerk te doen en om tande te borsel, maar die sprake van 'n nuwe kar het ek en my broer net agter ons oë gestoor. As dit lyk of my ouers deur die Autotrader blaai of praat van 3L's, diesel, straight six of ballonbetalings, het ons geweet die water is nog louwarm. En toe is dit ook so.

Vrydagnamiddag lê ek en boetie op die banke. Ons braai gewoonlik op Vrydae, so daar is 'n kalmte wat oor die huis hang. Dit was niks anders as 'n ander Vrydag nie. Maar daai Vrydagmiddag het ons iets gehoor wat ons nie ken nie. Dit was 'n anderse klank. Vir 'n oomblik wonder ons wat dit kan wees. 'n Mens raak mos gewoond aan jou huis se geluide en alles wat rondom dit gebeur. Daai hek maak só, die toaster spring op dáái way, nee dít is die swembadpomp of sussie van langsaan se zef boyfriend het pas met sy poegie gestop. En toe val dit my by.

Ek hardloop soos iemand met 'n aansteeklike virus na die sitkamervenster. Trek die gordyne op 'n skrefie en loer uit. Ek gil vir my broer – kom! En toe sit my ma en pa in 'n pers Opel. Die Astra-tipe. Maar die ding is half mooierig. My ma klim uit asof sy die eerste dame van die land is en my pa se trots kan jy amper hoor.

Ek sê ons moet 'n naam kies. My broer sê hy sit uit, ons kan besluit. My ma sê sy is mal oor Fleetwood Mac, so sy dink Rhiannon. Ek sê dit is beautiful. Ons steek die vuur aan en eet die lekkerste steaks - gewoonlik is dit hoendervlerkies of iets flou, maar dit was pay day. Later daai aand, toe sê ek ek wil 'n heildronk instel. My pa sê die vloer is joune.

Toe stoot ek die stuk rump tot in my linkerkies, maak my keel skoon en sê, Rhiannon Zandberg, baie welkom by die familie. En ek vra om verskoning vir jou van wat jy sonder keuse gekry het.

Kommentaar

Republikein 2026-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer