Vier vermeende kinderverkragters in Reho-hof

Borgtog is geweier aan die beskuldigdes in vier verskillende kinderverkragtingsake.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Vier vermeende kinderverkragters het onlangs in die landdroshof op Rehoboth verskyn.

'n Taxibestuurder, mnr. George Jackson (67), word daarvan beskuldig dat hy na bewering drie sussies (5, 7 en 10) by hul skool opgelaai en na sy huis in Blok D geneem het waar hy homself aan hulle ontbloot en gedwing het om seksuele dade met hom te pleeg.

Volgens 'n misdaadverslag van die Namibiese polisie is Jackson op 27 September in hegtenis geneem. Borgtog is geweier en die saak is tot 28 Oktober uitgestel.

Mnr. Elphie Swarts (52) is op 10 September in hegtenis geneem nadat hy volgens die polisie glo twee sussies van onderskeidelik 6 en 9 jaar oud op verskillende geleenthede verkrag het. Hy is ook borgtog geweier.

Mnr. Jan Kharugab (22) word daarvan aangekla dat hy na bewering 'n 11-jarige wat huis toe gestap het, naby die Lutherse Kerk in Blok E gegryp en verkrag het. Hy is borgtog geweier.

Die 19-jarige mnr. Laban Mbangula bly in aanhouding nadat hy op 4 September in hegtenis geneem is. Hy word daarvan beskuldig dat hy na bewering toegang tot die slagoffer se huis verkry en haar verkrag het toe sy alleen by die huis was.

REGSHULPSENTRUM

Volgens me. Yolande Engelbrecht wat geslagsnavorsing by die Regshulpsentrum (LAC) doen, kan die toepassing van die die wet op kindersorg en -beskerming (CCPA) positiewe verandering ten opsigte van die beskerming van Namibiese kinders bring.

Sy het op geslagsgeweldvoorvalle teen minderjarige verkragtingslagoffers gereageer.

"Wette is gewoonlik meer van nut om op geweld te reageer as om dit in die eerste plek te voorkom, veral in gevalle waar daar geen waarskuwingstekens is nie," sê Engelbrecht.

"Die wet op kindersorg en beskerming (wat sedert einde Januarie van toepassing is) het wel 'n paar proaktiewe maatreëls vir gesinne en gemeenskappe ingestel en is meer daarop gemik om probleme te voorkom."

Engelbrecht sê afskuwelike voorvalle soos dié trek die aandag van die publiek, maar voortgesette langtermynaksie is nodig vir blywende oplossings.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer