Vier vas nu00e1 renosterstropery
Vier vas nu00e1 renosterstropery

Vier vas ná renosterstropery

Vermeende Namibiese stropers het verlede Woensdag in die landdroshof op Omaruru in verband met die onwettige jag van 'n swartrenoster verskyn.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Vier Namibiese mans is op Werkersdag op Otjiwarongo in verband met die onwettige jag van 'n swartrenosterbul in hegtenis geneem.

Die beweerde stropery het glo op 'n private wildsplaas naby Omaruru plaasgevind.

Die vier beskuldigdes, mnre. Mapole Tjipopyeni, Uakutura Ndiaombe, Patten Opuwo en Mingeli Hofni, het verlede Woensdag in die landdroshof op Omaruru verskyn.

Volgens die hoof van die Namibiese polisie (Nampol) se eenheid vir be­skermde hulpbronne, adj.komm. Barry de Klerk, het die vier op klagte van die onwettige jag van spesiaal-beskermde wild, asook die onwettige­ besit van vuurwapens en ammunisie verskyn. “Die beskuldigdes bly in aanhouding en die saak is tot 31 Julie uitgestel,” het De Klerk gister aan Republikein bevestig.

Hy het gesê die renosterkarkas is op 28 April op die wildsplaas ontdek met sy horings verwyder.

“Die horings is nog nie gevind nie,” het De Klerk gesê.

Volgens Nampol se koördineerder van ondersoeke in die Otjozon­djupastreek, adj.komm. Naukalemo­ Andreas, is die verdagtes deur die polisie dopgehou en verlede Dinsdag in hegtenis geneem nadat die Otjiwarongo-­polisie die misdaadtoneel besoek het.

“Kundiges van die eenheid vir be­skermde hulpbronne, asook die teenstropingseenheid, was deel van die span wat die plaas besoek het. Hulle het patrone uit die karkas verwyder en vir ballistiese toetse gestuur,” het sy aan Nampa gesê.

“Die polisie het beslag gelê op 'n .303-jaggeweer, 'n Makarov-pistool, patrone van beide vuurwapens, jagmesse, 'n sonkrag-herlaaier en 'n byl.

Die reeksnommer van die .303-­jaggeweer is verwyder.

Andreas het gemeenskapslede vir hul samerwerking bedank omdat hulle die verdagte bewegings van die vermeende stropers op hul plase by die polisie aangemeld het.

Sy het ook gesê die polisie sal nie op hul louere rus voor alle stropers in hegtenis geneem is en volgens reg gestraf is nie.– Nampa en eie berig

Kommentaar

Republikein 2025-11-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer