Vier klagte teen die 'Kersdagmoordenaar'
Die roudiens van wyle me. Liezel Willemse wat op Kersfees doodgeskiet is, vind Vrydag in Khomasdal plaas.
Francoise Steynberg
Die 30-jarige man wat sy meisie op Kersdag glo ná 'n padwoedevoorval met 'n jaggeweer in Khomasdal in die hoofstad doodgeskiet het, bly in aanhouding.
Die vermeende moordenaar van me. Liezel Willemse (25), mnr. Carl Heinz Cupido, het Vrydag in die Windhoekse landdroshof in Katutura op klagte van moord wat verband hou met huishoudelike geweld, die onwettige besit van 'n jaggeweer en 37 patrone, asook die onwettige besit van dwelms verskyn.
Die beskuldigde is in die Katutura-polisieselle in aanhouding en sal op 10 Januarie 2020 formeel om borgtog aansoek doen.
Die beweerde moord spruit volgens hoofsinp. Kauna Shikwambi, polisiewoordvoerder, voort uit 'n padwoedevoorval in die hoofstad.
“Die paartjie het in 'n voertuig gery en by 'n verkeerslig gestop. 'n Taxi het agter hulle gestop en toe die verkeerslig na groen oorslaan, het die beskuldigde glo nie vinnig genoeg weggetrek nie. Dit het glo tot 'n woordewisseling met die taxi se insittendes gelei, wat later in 'n bakleiery ontaard het,” het Shikwambi gesê.
“Die paartjie het huis toe gery en die beskuldigde wou glo 'n jaggeweer kry om met die taxi se insittendes af te reken. Sy meisie het hom na wat verneem word probeer keer en 'n skoot het tydens hul struweling oor die geweer afgegaan, wat haar noodlottig getref het.”
Volgens Shikwambi is Willemse in die gesig geskiet en het sy omstreeks 16:12 op die toneel by die huis in Willa Filliesstraat in Khomasdal gesterf.
'n Vriend van die paartjie het aan Republikein gesê Willemse is voor Cupido, 'n hysbaktegnikus, se ma en sy broer se jong seuntjie doodgeskiet.
Shikwambi sê sakkies dagga is glo tydens Cupido se inhegtenisneming in sy besit gevind.
Vriende is geskok oor Willemse se skielike en ontydige dood en het hul medelye op haar Facebook-blad betuig.
Die bestuurder van 'n restaurant in Olympia waar sy voorheen 'n kelnerin was, het gesê sy was 'n gawe mens en het 'n vol lewe gelei.
“Ons voel vir die familie,” het die restaurantbestuurder gesê.
Willemse word deur haar grootouers, ouers, broers en susters oorleef.
Haar roudiens vind Vrydag om 19:00 by erf 3911 in Randstraat in Khomasdal plaas.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie